VIDEO: Richtersveld Erfenisfees ‘n reuse sukses

Die pas-afgelope Richtersveld Erfenisfees wat verlede Saterdag op Kuboes plaasgevind het, het vele tradisionele kunstenaars en sprekers na die fees gelei.
Die fees se tema was: My Komvandaan, waar verskeie Nama dansgroepe, digters en onderwysers in egte Nama tradisie met kleurvolle uitrustings danspassies en sangstukke vir feesgangers opgevoer.
‘n Raadslid vir die Namakwa-distriksmunisipaliteit, Lisa Minnies het gesê dié fees is een van vele wat weer hoop terugploeg in kulturele gemeenskappe.
“Ons as Namakwa-mense het ‘n baie ryk erfenis wat vir baie lank onderdruk was, maar vandag se verrigtinge gee ons hoop en moet ‘n bewys wees van die harde werk van ons staatsdepartemente,” het Minnies gesê.

‘n Woordvoerder vir die departement van sport, kuns en kultuur Bertie Saal het gesê dit is van kardinale belang dat Suid-Afrikaners hul uniekheid vier.

Saal het gesê Namakwa-distrik se mense was nog altyd bewus van taal en kultuur. “Die mense is intiem met kultuur en taal en by wyse van hoe hulle dans, is juis om kultuur te demonstreer en sodoende blootstelling te gee.”

“Ek kan met trots sê ek is ‘n Nama. Hoekom is ek ‘n Nama en hoekom wil ek Nama praat? Mense moet trots wees op hul kultuur. Ons moet weet wie ons is as verskillende mense en as een nasie saamstaan.”
Saal het gesê daar word gekyk na die volhoubaarheid van erfenis-feeste wat jaarliks op verskeie dorpe sal plaasvind.


Hy het gesê die moontlikheid is baie groot dat die Richtersveld Erfenisfees van 2020 op Eksteenfontein sal plaasvind.
“Dit bly steeds ‘n gemeenskapsfees wat streng op die bevordering van kultuur gefokus is en hoe meer uitreiking en bewusmaking ons kan kweek, hoe beter.”


Saal het gesê die departement is toegewyd om kultuur laat voortleef.
Die taak van die Noord-Kaapse departement van sport, kuns en kultuur is om alle inwoners van die Noord-Kaap te bedien deur sport en die verskillende kulture van die provinsie te bevorder waardeur nasiebou en maatskaplike samehorigheid versterk word, het Saal gesê.

Foto gallery: Keith Franklin

Please follow and like us:
error
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *