Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

‘West Coast Resources vra glo om likwidasie’
Illustrasie foto: Dominik Vanyi on Unsplash

Die Demokratiese Alliansie in die Noord-Kaap is bekommerd oor die ongeveer 300 mense wat dalk binnekort werkloos gaan wees.

Die DA se kiesafdelingshoof in die Kamiesberg-streek, Veronica van Dyk het op Woensdag ‘n verklaring gepubliseer waarin sy kommer uitgespreek het.

Dit kom nadat die DA verneem het dat die voorsitter van West Coast Resources (WCR) wat diamante myn op Koingnaas, glo personeel ingelig het van ‘n voorlopige likwidasie van die maatskappy.

Van Dyk sê die likwidasie is geïnisieer toe ‘n ooreenkoms met Kernel Resources, om die bestuur van WCR oor te neem, deur die mat geval het.

“Die aansoek om likwidasie sal later vandeesmaand, op 29 Oktober 2019, aangehoor word,” lui die verklaring.

“Die sluiting van WCR is slegte nuus vir die mense van Koingnaas. Honderde gesinne staar nou ‘n somber Kersfees in die gesig, en hulle weet nie waar hul volgende salaristjek vandaan kom nie.”

Volgens van Dyk het die afdanking van werkgeleenthede in die mynbousektor ‘n ‘algemene’ verskynsel geword, omdat die regering nie mynboubeleggings bevorder nie.

“Dit is hoogtyd dat die regering help om die mynbousektor op te bou in plaas daarvan om dit af te breek.”

Sy sê die DA sal ‘n skrywe aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings rig en vra dat die regering moet kyk of daar iets gedoen kan word om die betrokke mynonderneming te red.

“Maar totdat die regering die mynbouhandves skrap en ons mynbousektor oopmaak vir meer mededinging, innovasie en investering, moet ons voorbereid wees vir meer verwoestende werkverliese by myne regoor die provinsie en die land.”

WCR word deur die Trans Hex-groep (67,2%), die departement van openbare ondernemings (20,0%), Dinoka Investment Holdings (8,8%) en die Namaqualand Diamond Fund Trust (4,0%) besit.

Volgens WCR se webtuiste, het die maatskappy Trans Hex gekontrakteer om die onderneming se bedrywighede te bestuur en die diamante wat hy produseer te bemark.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES