Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Listen Live
Vrae ontluik rondom ‘omstrede’ Kharkams grassportveldprojek

Die DA in die Noord-Kaap wil weet hoekom ‘n kontrakteur vir die grassportveldprojek op Kharkams reeds gedeelteliks betaal is en hoekom so ‘n projek voortgaan weens die huidige droogte-krisis in die Kamiesberg-streek.

Veronica van Dyk, ‘n kiesafdelingshoof vir die DA in die Kamiesberg sê die party bevraagteken die besluit wat geneem is deur die waterlose Kamiesberg-munisipaliteit om ‘n multimiljoen rand se grassportveldprojek vir Kharkams aan te pak, op die hoogtepunt van die droogte in die Noord-Kaap.

Sy sê alhoewel Kharkams nie ‘eens’ drinkwater aan inwoners kan voorsien nie, lyk dit baie onverantwoordelik om die aanplanting van ‘n grassportveld, wat op sigself ‘n grootliks watergesentreerde projek is, aan te wakker, des te meer in die lig van die hittegolwe wat die provinsie ervaar.

“Dié projek, wat van 7 tot 28 Junie 2019 geadverteer is, is slegs twee tender-aansoeke ingedien teen die sluitingsdatum. Die kontrak is toegeken aan Namakwaland Construction, wat R12 953 946 miljoen beloop het, in teenstelling met LH Upington Construction wat R13 519 730 miljoen beloop het.”

Die spesifikasies van die projek sluit in die opgradering van die rugby- / sokkerveld, asook die oprig van besproeiing en die oprigting van kleedkamers.

“Daar word vermoed dat die suksesvolle kontrakteur reeds ‘n vooruitbetaling van R4 813 361 van die Municipal Infrastructure Grant (MIG) ontvang het,” het van Dyk gesê.

Sy het gesê, tot dusver is die boorgat vir die natmaak van die sportveld nog nie gekoppel nie en besproeiingstelsels is ook nie gelê nie.

“Inwoners het gekla dat die vragmotors vier riooldreine leeggemaak het in ‘n poging om die veld aan die lewe te hou. Watertenkwaens vervoer ook water vanaf beesposte en selfs inwoners se private JoJo-tenks, na die reeds uitgedroogde grasveld, wat op 10 Oktober 2019 geplant is.”

Van Dyk sê die DA het baie vrae rakende die projek.

“Ons wil weet wie se swak ingeligte idee dit was om voort te gaan met hierdie projek, ten spyte van die waterskaars toestande in Kamiesberg?”

“Dit is ook nodig dat ons vasstel hoeveel daar reeds aan die kontrakteur oorbetaal is en waarom ‘n voorafbetaling nodig was.”

“Terwyl Ribicon Consulting Group verder aangewys is as die kontrakbestuurder vir die ses-maande-projek, is dit ook bevraagteken hoe die projek bestuur word, en ons sal hieroor meer besonderhede benodig.”

“Hierbenewens wil ons ook uitvind wie betaal vir die vervoer van water na die sportveld en wat die munisipaliteit doen om te verseker dat inwoners se waterbehoeftes voorkeur kry bo die natmaak van die veld.”

Van Dyk het gesê die DA sal voortaan die saak bespreek met die COGHSTA-LUR, Bentley Vass en ook parlementêre vrae indien vir ‘n antwoord op hierdie ‘omstrede’ projek.

“Daar is duidelik mense wat onbevoeg is of wat munisipale fondse tot hul eie voordeel wil benut, wat die sake van die Kamiesberg bestuur. Hulle moet aanspreeklik gehou word vir hierdie vermorsing van die munisipaliteit se skaars finansiële hulpbronne en skaars watervoorsiening.”

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES