Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Listen Live
VIDEO: Nababeep baba met seldsame sindroom gebore
Candice Cloete, Franklin Julies en baba Catelayha

‘n Paartjie op Nababeep se uitdagings teen die seldsame Apert-sindroom is ‘n taak wat die twee onomwonde aanpak nadat hul dogter 11 maande gelede met dié sindroom gebore is.

Catelayha Cloete is een uit 165 000 gevalle regoor die wêreld wat met hierdie sindroom gebore is, en ook die enigste in die Noord-Kaap.

Haar ouers Candice Cloete en Franklin Julies moet egter hul hande diep in hul sakke druk om te verseker baba Catelayha kry die regte behandeling wat gemak kan bied.

Die Apert-sindroom, wat bekendstaan as ’n genetiese erfsiekte, kan deur die volgende eienskappe erken word: ‘n keëlvormige skedel, bekend as turribrachycephaly; ‘n gesig wat diep in die middel is; oë wat breed is en na buite buig; ‘n geknakte neus en ‘n onderontwikkelde bo-kakebeen wat kan veroorsaak dat die tande stampvol word.

Dit kan ook lei tot blindheid, doofheid, verlamming, sinusprobleme asook intellektuele uitdagings.

Sommige lyers kan een, of alles of geen van die afwykings ontwikkel.

In baba Catelayha se geval het sy sinusprobleme ontwikkel en ma Candice sê dit kan ‘nogal traumaties wees’.

“Die probleem lê eintlik by haar kop. Haar kop se bene ‘fuse’ vas.

Haar brein is steeds besig om te groei en dit beteken die kopbene gaan die brein druk.

Sodra dit die brein druk kan sy sterf.  Daar was twee dele van die kopbeen wat dreig om teen die brein te druk, daarom het sy reeds ’n kop-operasie ondergaan.

Die moontlikheid bestaan dat daar nog soortgelyke operasies kan volg. Catelayha was glo te jonk toe sy die eerste operasie ondergaan het.

“Dit kan veroorsaak dat haar gesig later heeltemal misvorm raak,” het Candice gesê.

Die kop-operasie wat sy verlede maand ondergaan het, het behels dat haar kop van oor tot oor oopgesny was.

Haar oë wat meer aan die buitekant was, is tydens die operasie teruggedruk.

Januarie aanstaande jaar moet sy ’n asemhalingsoperasie ondergaan.

Haar ore moet ook getoets word om te kyk na die uitwerking van die sindroom op haar gehoor.

Baba Catelayha Cloete

“Die dokters het voorspel dat sy blind gaan raak maar die Here was nog net goed.  Sy het pragtige groot oë en sy maak gebruik daarvan.  Sy kyk oral, wil niks mis nie,” vertel Candice.

Candice wil graag bewusmaking doen oor hierdie selsame sindroom.

Sy sê mense kyk verskriklik na haar kind en kinders word bang as hulle haar kyk.

“Mense behoort beter begrip te hê as hulle meer oor die Apert-sindroom ingelig kan word.”

Baba Catelayha se behandeling is by die Rooi-kruis hospitaal in Kaapstad.

Dit gaan gepaard met groot finansiële uitdagings.

Indien u ’n bydrae wil maak, kan Candice direk geskakel word by 061 672 0501.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES