Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Tientalle misdadigers gehok tydens polisie-operasie Usalama
Illustrasie foto: ev on Unsplash

Sowat 15 verdagtes tussen die ouderdomme van 24 en 56-jaar oud is naby Kleinsee gearresteer vir onwettige mynbou. Mynwerktuie en gruis wat diamante bevat wat in hul besit gevind is, is gekonfiskeer.

Dit kom nadat ‘n multidissiplinêre misdaadvoorkomings-operasie, genaamd Usalama VI baie gewenste resultate gelewer het toe die polisie verdagtes gearresteer het wat by verskillende kriminele aktiwiteite betrokke was.

Die operasionele fokus was om transnasionale grensoortredings aan te spreek om misdaad op die grense van Nakop en Vioolsdrift hok te slaan.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Kaptein Olebogeng Tawana het gesê misdade wat hiér gepleeg word, sluit in motordiefstal, dwelmhandel, onwettige vuurwapens, veediefstal, mensehandel, smokkel van minerale en omgewingsmisdade.

Tawana het gesê die operasie het op 30 Oktober afgeskop en is Maandag 4 November afgesluit.

Verskeie verdagtes is in Namakwa, ZF Mgcawu en John Taolo Gaetsewe-distrikte in hegtenis geneem.

Dwelms ter waarde van meer as R38 000 is gekonfiskeer en die verdagtes is in hegtenis geneem en staan ​​tereg op aanklagte van die handel in dwelms en die besit van dwelms. Vier verdagtes onderskeidelik van Upington, Calvinia, Springbok en Paballelo is agter tralies.

‘n Geraamde skatting van meer as R44 000 se onwettige Afzal oka-pyp geure is ook gekonfiskeer by twee snoepwinkels op Rosedale naby Upington.

Die polisie het ook ‘n konkoksie- oftewel 280 liter tuisgebroude alkohol op Postmasburg gekonfiskeer waarvan die brouers boetes opgelê is.

Twee vragmotors is ook tydens ‘n statiese padversperring naby Kathu gekonfiskeer, nadat daar bevind is dat die voertuie met vervalste lisensieskyfies bestuur is. Nog twee voertuie wat ingevoer is, is in Springbok gekonfiskeer.

Die polisie in Galeshewe het koperkabel wat sowat 82kg weeg, met ‘n geraamde straatwaarde van R5300 gekonfiskeer wat in ‘n huis gevind is.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort voor die verskeie landdroshowe verskyn.

Die Noord-Kaapse polisiebestuur het alle amptenare wat by die operasie Usalama VI betrokke was, toegejuig vir die suksesse wat bereik was.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *