86-Jarige vrou verkrag en vermoor
Illustrasie foto: Cristian Newman on Unsplash

WARRENTON – ‘n Nadoodse ondersoek wat vroeër vandeesweek geloods is, as deel van die moordondersoek op Warrenton, het onthul dat die slagoffer seksueel aangerand is.

Die nadoodse resultate maak deel uit van die aanval op ‘n 86-jarige bejaarde vrou in Warrenton op Saterdag, 3 November.

‘n Provinsiale woordvoerder vir die polisie, Brigadier Mohale Ramatseba het gesê, ‘n man het die bejaarde vrou by haar woning met ‘n mes aangeval waar hy haar van ‘n televisiestel, lewende hoenders en vleis in haar vrieskas beroof het.

“Die slagoffer is seksueel aangerand en het aan haar meswonde beswyk,” het Ramatseba gesê.

‘n Intensiewe ondersoek deur die provinsiale misdaadintelligensie-, opsporingspan en speurders is van stapel gestuur om die verdagte op te spoor.

Enige persone met geloofwaardige inligting wat tot die arrestasie en suksesvolle vervolging van die verdagte kan lei, word vriendelik versoek om die ondersoekbeampte te kontak by 082 448 6340.

Lede van die publiek word ook aangemoedig om die MySAPSApp op enige iPhone of Android-toestelle af te laai om makliker toegang tot die polisie te hê om onder meer inligting te bied. Die polisie se misdaadnommer kan ook geskakel word by 08600 10111. Alle inligting sal streng vertroulik behandel word.

“Veiligheid van senior burgers is altyd ‘n topprioriteit van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en lede van die gemeenskap word versoek om te verseker dat ons bejaardes te alle tye beskerm word. Plaaslike stasies of gemeenskapspolisieforums kan gekontak word vir hulp,” sê Ramatseba

Please follow and like us:
error
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *