Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Sekuriteitsmaatskappy se vuurwapens gekonfiskeer
Mense wat gewond is in die skietvoorval. Fotos: Verskaf

‘n Sekuriteitsmaatskappy wat glo op vermeende onwettige delwers geskiet het se vuurwapens is deur die polisie gekonfiskeer vir verdere ondersoek, het die polisie gesê.

‘n Provinsiale woordvoerder vir die polisie, Brigadier Mohale Ramatseba het gesê die provinsiale kommissaris van die polisiediens in die Noord-Kaap, Luitenant-Generaal Risimati Peter Shivuri is op Port Nolloth om met alle rolspelers oor die voorval te vergader.

“Nog geen arrestasies is gemaak nie en drie vuurwapens van Vetus Schola Security is vir ondersoekdoeleindes gekonfiskeer,” het Ramatseba gesê.

Dié skietvoorval in die Richtersveld het die gemeenskap woedend en nòg mense gewond nadat die betrokke sekerheidsmaatskappy vir ‘n myn glo op ‘onwettige myners’ losgebrand het.

Luidens sosiale media inskrywings het ‘n sekuriteitsmaatskappy, Vetus Schola Sekuriteit wat deur die Lower Orange River (LOR) Diamantmyn aangestel is, op die delwers geskiet.

Sleutelbordkrygers het die optrede van die sekuriteitsmaatskappy ten sterkste op sosiale media veroordeel.

Ramatseba het gesê die polisie op Alexanderbaai ondersoek ‘n saak van poging tot moord nadat daar op vier vermeende onwettige mynwerkers geskiet is.

“Na bewering het Vetus Schola Security die vier manlike slagoffers verlede Vrydag omstreeks 20:00 geskiet,” sê Ramatseba

Na bewering was die slagoffers op pad om onwettige mynbou by die Bloedrift-myn in Alexanderbaai te bedryf.

Ramatseba sê drie van die vier slagoffers is in ‘n plaaslike mediese fasiliteit behandel en is later Vrydag-aand ontslaan terwyl die vierde slagoffer in ‘n hospitaal in Kimberley opgeneem is.

Lede van die Openbare Orde Polisie en Taktiese Antwoordspan is in die omgewing om die situasie te monitor.

Woordvoerders vir die Vetus Schola Sekuriteit òf vir LOR Diamonds kon opgespoor word vir kommentaar nie.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *