Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

VIDEO: Gestremde tiener vra beloftemakers om by “woord” te hou
Kenrick Roberts se rolstoel het al hiér getuimel. Foto: Jason Milford

‘n Ywerige gestremde tiener op Steinkopf is al raadop omdat hy op ‘n daaglikse basis ‘n lang pad moet aandurf om by die skool uit te kom, én weer terug huistoe.

Kenrick Roberts (15), ‘n graad 8 leerder en sy ma, Anneline Swartbooi (43) sukkel nou al ‘n geruime tyd om ‘n huis of selfs ‘n erfporsie te kry wat naby genoeg aan die skool geleë is.

Swartbooi sê sy wag al vir die afgelope drie jaar op beloftes om te realiseer.

“Dit is daagliks ‘n onbegonne taak om Kenrick by die skool en terug huistoe te kry, maar wat ook nog moeiliker is, is dat daar nie rolstoel toegang by die skool is nie,” het Swartbooi laat hoor.

Sy vertel dat die gesukkel met die rolstoel by die hoërskool al daartoe gelei het dat die stoel omgeval en Kenrick seergekry het.

“Die uitdagings het geen einde nie.”

Die huis is ongeveer 1.5km van die skool af, en Swartbooi sê dit is nie altyd maklik om die rolstoel heen-en-weer te stoot nie.

“Ek vra net dat die mense wat beloftes gemaak het, by hul woord moet hou,” het Kenrick gesê.

Met Radio NFM Nuus se onlangse besoek, was dit duidelik dat die een-vertek woning nie meer voldoende is vir hierdie gesin nie.

Anneline Swartbooi (regs) en haar suster moet daagliks sukkel om Kenrick by die skool en weer by die huis te kry.

Die buite-kamer waarin die gesin woon, het ook nie rolstoel toegang nie.

Radio NFM het drie jaar gelede uitgereik na hierdie familie, maar dit blyk dat alle hulp wat na dié familie moes gaan, vergete is.

“Ek het verskeie beloftes op wit en swart gekry, maar niemand kom meer na vore nie en ons oproepe word ook nie meer beantwoord nie,” het ‘n raadop Swartbooi gesê.

Radio NFM Nuus is tans in die proses om ondersoek in te stel oor die beloftes wat aan Kenrick en sy gesin gemaak is.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *