OPVOLG: Polisie waarsku dat gerugte ondersoeke kan benadeel
Shakira Links se liggaam is op 23 November in haar huis deur 'n buurvrou gevind. Foto: Verskaf

Die polisie in die Noord-Kaap het sy inwoners gewaarsku om nie besprekings aan te moedig wat polisie-ondersoeke moontlik kan benadeel nie.

Dit kom nadat ‘n 20-jarige ma, Shakira ‘Kira’ Links op 23 November dood in haar huis op Bergsig gevind is.

Links se liggaam is deur ‘n buurvrou ontdek terwyl die baba nog aan die slaap was.

Op dié stadium het die polisie gesê dat daar nie gemene spel bevestig kan word nie en dat omstandighede rondom haar dood nog ondersoek word.

Brigadier Mohale Ramatseba, ‘n provinsiale woordvoerder van die polisie, het gesê dat geen arrestasies gemaak is nie.

Hy het bygevoeg dat die nadoodse resultate meer lig op die ondersoek kan werp. “Die saak wat geopen is, kan na moord verander word as gemene spel vermoed word.”

Intussen doen gerugte rondtes in plaaslike gemeenskappe, en elke weergawe voeg sy eie wending by tot wat gebeur het op die dag van Links se dood.

Ramatseba het streng gewaarsku dat onbevestigde aantygings ‘n polisie-ondersoek kan benadeel, veral as niemand ‘n verklaring aan die polisie afgelê het nie.

“Ons moet die ondersoekbeamptes toelaat om te doen wat hulle die beste doen, en dit is om alle leidrade en bewyse wat van enige toneel versamel is sonder om mislei te word deur beweringe, te ondersoek.”

Ramatseba het verder gesê dat gemeenskapsveiligheid van uiterste belang vir die polisie is en dat enige en alle samewerking opreg waardeer sal word.

“Die gemeenskappe is ons ooggetuies en ore. Ons wil die relevante inligting wat aan ons voorsien word opvolg en sodoende die bande versterk en ons gemeenskappe veiliger maak.”

Please follow and like us:
error
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *