Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Upington polisie konfiskeer R1.5 miljoen se dagga
Fotos verskaf: saps.gov.za

Die polisie op Upington se misdaadvoorkoming- en misdaadintelligensie-eenhede het inligting opgevolg oor dwelmhandel op die N1-hoofroete naby Upington.

Kaptein Sergio Kock het die voorval en arrestasie bevestig.

Die polisie het op Woensdag vandeesweek, omstreeks 07:00 die ogggend, ’n verdagte blou Toyota Camry voertuig ongeveer 30km buite Upington opgemerk.

Kock het gesê die voertuig het na bewering vanaf Lesotho na Upington gereis toe die polisie hulle gemaan het om af te trek.

“Die voertuig het uiteindelik naby die Leerkrans-omgewing stilgehou en albei insittendes het in die nabye veld probeer vlug.”

Die polisie het die verdagtes te voet gejaag en minute later gearresteer.

Nadat die voertuig deursoek is, het die polisie 200kg dagga gevind met ‘n geskatte straatwaarde van ongeveer R1,5 miljoen.

Die polisie het ook die voertuig gekonfiskeer, omdat dit in die pleging van ‘n misdaad gebruik is.

Die waarnemende stasiebevelvoerder op Upington, Kolonel Eve April, het die lede geprys vir hul toewyding en waaksaamheid. Sy het ook die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning.

“Ons sal voortgaan om misdaad te keer en die ruimte te verminder vir misdadigers om in Upington en omliggende gebiede misdade te pleeg,” het April gesê.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES