Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

OVK vra uitstel van tussenverkiesings weens COVID-19 pandemie
Illustrasie foto: OVK - Facebook.

Die ANC in die Noord-Kaap het Maandag-middag in ’n verklaring gesê hy verwelkom die onafhanklike verkiesingskomissie (OVK) se besluit om die tussenverkiesing in wyk 4 in Khai Ma, uit te stel.

So ook die aankondiging deur President Cyril Ramaphosa om ’n nasionale ramptoestand in die land te verklaar – in die nasleep van die stygende statistiek oor die COVID-19 Coronavirus-pandemie.

Die OVK het ook in ’n verklaring gesê hy sal die Verkiesingshof dringend nader om alle geskeduleerde tussenverkiesings uit te stel as deel van sy reaksie op die COVID-19-pandemie.

Die aangekondigde maatreëls is onder meer om mense aan te spoor om fisieke kontak te beperk en om byeenkomste van meer as 100 mense te verbied.

Die verkiesingsproses behels die relatiewe noue kontak tussen verkiesingsbeamptes en kiesers in die uitruil van stembriewe en die ink van duime.

“Na afloop van die stemproses moet stembriewe ook getel word. Waar ’n besmette kieser ’n stembrief hanteer het, is dit ’n aanduiding dat aktiewe virusse minstens tien uur sal duur. Dit sal nog ’n geleentheid wees vir kruisbesmetting van amptenare wat die telproses doen.”

Die kommissie het ’n skrywe aan die Minister en provinsiale LUR’e vir samewerkende regering en tradisionele sake gerig om hulle in kennis te stel van die beoogde aansoek by die verkiesingshof.

Alle gepaardgaande verkiesingsgeleenthede, waaronder naweke vir kiesersregistrasie en seremonies vir die ondertekening van gedragskode, is ook uitgestel.

Die tussenverkiesings vir 2020 wat op 18 Maart, 8 April, 29 April en 13 Mei sou plaasvind, word beïnvloed.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *