Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Sleutelbordkrygers versprei fopnuus oor joernalis
Ulrich Hendriks. Foto: Verskaf.

Die spesialisverslaggewer van die SAUK in die Noord-Kaap, Ulrich Hendriks vra die publiek om nie bewerings rondom sy gesondheid te maak nie.

Dit kom nadat die nasionale minister van gesondheid die eerste twee gevalle van die COVID-19 virus in die provinsie bevestig het – en sleutelbordkrygers op sosiale media inskrywings gemaak het en Hendriks as ’n draer van die virus uitgewys.

“Ek was in kontak met buitelanders, maar ek het weens voorsorgmaatreëls myself geisoleer en laat toets,” het Hendriks gesê.

Hendricks sê die uitslae is nog nie bekend nie.

“Niemand kan met sekerheid sê dat die mense met wie ek in kontak was, die virus dra nie, dit was my eie besluit om myself te isoleer en laat toets. Ek dink dit is die verantwoordelike ding om te doen.”

Hendriks sê sy gesin se gesondheid is ook vir hom belangrik.

Intussen het ’n regskenner gewaarsku dat Suid-Afrikaners gehoor moet gee aan die maatreëls wat ingestel is om die verspreiding van die Coronavirus te beperk.

Die strafregkenner, Llewelyn Curlewis, verbonde aan die Universiteit van Pretoria sê indien mense nie die maatreëls nakom nie, begaan hulle strafbare oortredings.

Die strawwe sluit in boetes en tronkstraf van tot ses maande.

Die maatreëls sluit in dat geen byeenkoms aangebied mag word met meer as 100 mense teenwoordig nie, beperkings op die verkoop van alkohol, en die verbod op die verspreiding van vals of misleidende inligting.

Curlewis sê ingevolge die gemenereg kan ’n mens wat die virus onder lede het, vervolg word indien hy doelbewus iemand blootstel aan die risiko.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *