Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

OPVOLG: Hartswater egpaar onder kwarantyn
Illustrasie foto: Josh Hild on Unsplash

’n Egpaar van Hartswater is positief getoets vir die COVID-19 virus en sal in kwarantyn bly totdat hul negatief getoets word.

Die paartjie het aan die departement van die gesondheid se reaksiespan bevestig dat hulle tussen 11 en 13 Maart ’n kerkkonferensie in Bloemfontein bygewoon het.

“Ons waardeer die proaktiewe en openlike reaksie van die egpaar om hulself getoets te kry sodra hulle bewus geword het van die positiewe pasiënte van die konferensie,” het die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul gister in ’n verklaring gesê.

Saul het gesê die egpaar het hulself geïsoleer sodra hul vermoedens geopper is.

“Hulle is besoek deur die reaksiespan en is nou in kwarantyn tuis waar dit geen gevaar vir die gemeenskap inhou nie. Hulle is onder observasie en hul toestand is nie lewensgevaarlik nie.”

Die distriksgesondheidsuitreikingspan doen tans die kontakspoor in die Phokwane munisipaliteit.

Die provinsiale regering doen egter ‘n beroep op lede van die gemeenskap om met die span saam te werk.

Tussen 21 Februarie en 21 Maart is sewentien verdagte gevalle in die provinsie getoets en almal is negatief vir hierdie virus. Die getoetsde ouderdomme wissel tussen vier- en 47-jaar. Sedertdien is nog tien pasiënte getoets. “Ons wag nog op die resultate.”

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *