Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Verkragter lok gestremde tiener met R5
Illustrasie foto: Chen Feng on Unsplash

Die polisie op Danielskuil in die Noord-Kaap verwelkom die lewenslange vonnisoplegging van ’n 36-jarige verkragter.

Tebogo Nkatlelang is verlede Vrydag in die Danielskuil-streekhof tot lewenslank gevonnis.

Nkatlelang is skuldig bevind aan die verkragting van ’n 12-jarige siggestremde meisie.

Kaptein Olebogeng Tawana, ’n woordvoerder vir die polisie het gesê die voorval het reeds op 28 Januarie 2012 plaasgevind.

Tydens hofverrigtinge het dit aan die lig gekom dat Nkatlelang die 12-jarige slagoffer na sy woning gelok en beloof om haar ’n R5 te gee.

Die slagoffer het haar 14-jarige vriendin en ander broers en susters saamgenooi na Nkatlelang se woning.

In plaas daarvan om die slagoffer die beloofde R5 te gee, het hy sy neef opdrag gegee om die broers en susters terug na hul woning te neem.

Die slagoffer en haar 14-jarige vriendin het agtergebly.

Nkatlelang het biere gekoop en die twee jong dogters na ’n nabye begrafplaas geneem.

Tawana het bevestig dat Nkatlelang daarna die gru-daad by die begrafplaas gepleeg het.

Dit is nog onbekend wat van die 14-jarige geword het toe die insident plaasgevind het.

Nkatlelang is weens vorige insidente as ’n baie geweldadige individu deur die hof aangewys.

“Die slagoffer is siggestrem en was baie swak na die traumatiese gebeurtenis. Sy het geveg vir haar lewe nadat die verkragter haar aan haar eie genade oorgelaat het.”

“Dit was toe reeds donker en sy het ook ernstige liggaamlike beserings opgedoen, daarom was dit vir haar onmoontlik om onmiddellik by die huis uit te kom.”

Tawana het ook bygevoeg dat dit goed was dat daar mense in die omgewing was wat haar huis toe gehelp het.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES