Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Geen heenkome vir Namakwa haweloses gedurende inperking teen Covid-19
Geen planne vir mense op stortingsterrein nie. Foto: Bernadine Hearn.

Ten spyte van president Cyril Ramaphosa se aankondigings dat skuiling aan haweloses gebied moet word, blyk dit ’n kolossale uitdaging vir rolspelers in die Namakwa distrik te wees.

Haweloses op die munisipale stortingsterrein buite Bergsig veg onverpoosd voor om aan die lewe te bly.

Dié haweloses se grootste bron van inkomste kom van die invordering van herwinbare materiale om aan skrootwerwe te verkoop.

Skrootwerwe val egter onder die kategorie van ondernemings wat nie noodsaaklik beskou word gedurende die inperking nie.

Ramaphosa het gisteraand in ’n regstreekse beeldsending die land toegespreek oor die impak van die Covid-19-pandemie.

Die president het in sy toespraak gesê dit is die eerste keer in die geskiedenis van die demokrasie dat ’n landwye inperking ingestel is.

“Ons het ’n aantal uitdagings ervaar wat ’n geweldige las op ons mense gelê het. Ons is bekommerd oor diegene wat nog nie die erns van hierdie virus besef het nie. Ons gaan voort om water af te lewer na gebiede wat nie water het nie, sodat ons mense hoë higiënevlakke kan handhaaf. Ons bied ook skuiling aan mense wat haweloos is,” het Ramaphosa gesê.

Sammy Cloete van die departement van maatskaplike ontwikkeling in die Namakwa distrik het aan NFM Nuus gesê daar is nog geen plan om volwasse hawelose persone te huisves nie.

Cloete sê daar is reeds ’n plan in plek om straatkinders te huisves by verskeie sentrums.

“Gesprekke rondom die huisvesting van haweloses was ter tafel gelê, maar die res van die rolspelers van die taakspan kon nog nie ’n besluit maak nie.”

Cloete het gesê die rede hiervoor is die uitdaging van dwelmmisbruik van meeste hawelose mense.

“Mense gaan onttrekkings hê en ons moet ook ’n mediese plan instel indien so iets gebeur.”

Cloete het verder gesê daar word baie groter insette van alle rolspelers benodig in hierdie verband.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES