Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Mediese veldwerkers word ontplooi te midde SA se afgradering na rommelstatus
Illustrasie foto: Online Marketing on Unsplash

Sowat 10 000 veldwerkers gaan binnekort ontplooi word om mense by hul huise te toets vir die Covid-19 virus.

President Cyril Ramaphosa het Maandag-aand hierdie aankondiging gemaak toe hy die land toegespreek het.

Die aankondiging kom na die 21-dae inperking ingestel is om die virus die hoof te bied.

“Mense met simptome sal na plaaslike klinieke of mobiele klinieke verwys word vir toetsing,” het Ramaphosa gesê.

Mense wat met coronavirus besmet is, maar wat geen of matige simptome het nie, sal in die huis of by ’n fasiliteit wat deur die regering voorsien is, in isolasie bly en diegene met ernstige simptome sal na hospitale oorgeplaas word.

Met behulp van mobiele tegnologie sal ’n uitgebreide opsporingstelsel vinnig ontplooi word om diegene op te spoor wat in kontak was met bevestigde coronavirus-gevalle en om die geografiese ligging van nuwe gevalle in ware-tyd  te monitor.

Verder sê die president hierdie ernstige noodgeval gebeur in ’n tyd waarin die ekonomie onder groot druk verkeer.

Ramaphosa sê met die instelling van die inperking, is nuus ontvang dat die graderingsagentskap Moody’s, – Suid-Afrika na ’n sub-beleggingsgraad afgegradeer het.

“Dit sal die leenkoste aansienlik verhoog om staatsbesteding te befonds en sal die ekonomie negatief beïnvloed.”

Hy sê hierdie reaksie op die koronavirus-pandemie sal op geen manier verminder word nie.

“Ons wil voortgaan om die nodige gesondheidsintervensies en ekonomiese en maatskaplike maatreëls in werking te stel om die verspreiding van die siekte te beveg en die gevolge daarvan op ons mense te verlig.”

“Binne die beperkinge van die huidige krisis, bly ons daartoe verbind om strukturele ekonomiese hervormings in werking te stel om swak ekonomiese groei, beperkte openbare finansies en sukkelende ondernemings in staatsbesit aan te spreek.”

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES