Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Listen Live
Namakwa polisie ‘sal nié terugstaan vir persone wat wet oortree’
Inwoners van Vaalwater Bergsig in oproer en die 'verontagsaming van die inperking'. Fotos: Facebook.

Die hoof van die polisie in die Namakwa-distrik, Brigadier Francis Hender het Sondag se oproer in Vaalwater, Bergsig, ten sterkste veroordeel.

Hender het ná die stof gaan lê het in ’n onderhoud aan Radio NFM Nuus gesê dié gemeenskap het roekeloos opgetree.

Die chaotiese optrede van inwoners spruit glo uit ’n onderonsie tussen polisiebeamptes en Rastafariërs.

Hender het gesê die polisie het ondersoek ingestel op ’n klagte wat vanaf Rastafariese-inwoners gekom het.

“Die Rastafariërs het toe oproerig teenoor die polisiebeamptes opgetree.”

Hy sê die rusie met die polisie het nuuskieriges straat toe gelok en die situasie het vererger.

“Die polisie was genoodsaak om versterking in te roep.”

Hender sê die polisie kon daarin slaag om vier persone in hegtenis geneem, maar dat twee nog op vrye voet is.

Hy sê egter dat hy teleurgesteld is in die gemeenskap se optrede.

“In daardie tyd waar die wetstoepassers besig was om orde te handhaaf, het die gemeenskap heeltemal die reels van die inperking oortree.”

“Die polisie werk baie hard om die gemeenskap veilig hou, maar optredes soos hierdie maak dit baie moeilik.”

Hender het verder gewaarsku die polisie sal nié terugstaan vir persone wat die wet oortree nie.

Intussen het daar videos en foto’s op sosiale media versprei waarin die chaos vasgevang is.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES