Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Listen Live
Twee vas vir kwart-miljoen rand se dwelms
Foto: Verskaf

Die polisie op Plooysburg in die Noord-Kaap het oor die naweek twee mans vasgetrek wat dwelms en onwettige tabakprodukte vervoer het.

Die polisie het Saterdagaand ‘n verdagte Toyota Yaris opgemerk ongeveer 3km buite Plooysburg.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Kaptein Sergio Kock het bevestig dat die polisie die voertuig deursoek en beslag gelê het op dwelms en onwettige tabakprodukte.

Die polisie het 5 sakke saamgeperste dagga, 10 pakkies Stuyvesant-sigarette en 10 sakke BB-tabak op die agtersitplek en in die kattebak van die voertuig gevind.

”Die totale waarde van die dwelms en tabakprodukte word geraam op ‘n kwart miljoen rand (R250 000).”

Die polisie het twee verdagtes van 47- en 48-jaar oud in hegtenis geneem en hulle is aangekla vir die handel in dagga, onwettige vervoer van sigarette en tabak gedurende die nasionale inperking.

Die polisie het ook die Toyota Yaris gekonfiskeer omdat dit in die pleging van ‘n misdaad gebruik was.

Foto: Verskaf

Die verdagtes sal binnekort in die Douglas-landdroshof verskyn.

Die ondersoek duur voort.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES