Politieke regering in die provinsie het gemoedere “droog”
Die LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake, Bentley Vass. Foto: Facebook

ANC-leiers in die Noord-Kaap blyk egter nie bewus te wees dat die Demokratiese Alliansie besig is om die regerende party in die provinsie bloedneus te slaan nie.

Die DA-leiers se handskoene is af en is bereid om in ’n kaalhand geveg in die kruit te klim met die ANC oor die watertekort in die Kamiesberg-streek.

Sedert die begin van die jaar het die DA ’n beroep gedoen op die departement van plaaslike regering en tradisionele sake om in te gryp en watertekort in die Kamiesberg-streek aan te spreek.

Dit kom nadat gemeenskappe vir etlike dae geen toegang tot water gehad het nie.

Ook dat ’n onlangse projek om die sportgronde op Kharkams op te gradeer, die belastingbetaler bykans R5 miljoen uit die sak gejaag het – en daar nié water is om die sportgronde te onderhou nie, sê Veronica van Dyk, die DA Noord-Kaap se kiesafdelingshoof vir Kamiesberg.

Vandeesweek het dit weer aan die lig gekom dat inwoners op Kharkams egter vir vier dae sonder water gesit het gedurende die LUR Bentley Vass se besoek aan die Kamiesberg-streek.

Vass het glo uitreikingswerk in die streek gedoen.

Van Dyk het in ’n vurige inskrywing op sosiale media haar misnoë uitgespreek.

“Die inwoners van Kharkams in die Kamiesberg munisipaliteit kla dat hulle al 4 dae nie water het nie. Dit is kommerwekkend, want die munisipaliteit sluit môre en die hele personeel is besig om ’n afskeidsfunksie in Port Nolloth te hou.”

Van Dyk gaan verder deu te sê dat daar is dus niemand wat ’n telefoon beantwoord in die munisipaliteit nie.

“En die klagte sal heel moontlik in die vakansieperiode hanteer word, wat addisionele oortydkostes vir die munisipaliteit sal meebring.”

“Die DA gaan vra dat die munisipale bestuurder moet verslag doen oor hoeveel mense op oortyd geplaas is en vir watter afdelings en ook na die af-periode wat die uitgawes in hierdie verband verloop.”

Die Kamiesberg munisipaliteit het intussen ’n kennisgewing op sy sosiale media-blad uitgestuur wat sê hy is bewus van die water-probleem op Kharkams en ander areas.

Die kennisgewing lui dat die burgemeester Susarah Nero glo reeds ’n dringende vergadering met die tegniese departement gehad het om uitdagings van die watertoevoer-lyn aan te spreek.

“Alternatiewe maatreëls is reeds in plek om te verseker dat die gemeenskap die nodige skoon en drinkwater kry.”

Vass se kantoor is op verskeie geleenthede gevra om terugvoering te gee, maar het nie op navrae gereageer nie.

Nuus

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: Content is protected !!