VIDEO: ‘Geen’ heenkome vir stortingsterrein-families
Dolly Witbooi met haar seuntjie Lorenzo. Fotos: Jason Milford

Die stortingsterrein net buite Bergsig mag dalk vir vele ’n plek wees waar rommel “ge-dump” word, maar vir meer as 20 huisgesinne het dit die afgelope jare hul tuiste geword.

Radio NFM Nuus het saam met Namakwaland se radio en tv-persoonlikheid, Lyntjie Jaars ’n besoek afgelê aan die stortingsterrein en afgekom op ’n 25-jarige ma wat besig was om haar bykans 2-jaar oue baba te versorg.

Dolly Witbooi, haar seuntjie Lorenzo en haar lewensmaat woon in een van die informele strukture wat hulle vir die afgelope drie jaar al ‘huis’ noem.

Hiér, is die daaglikse proses eenvoudig. Nuwe rommel wat deur plaaslike inwoners of besighede gestort word, word deursoek vir herwinbare produkte wat verkoop kan word om die gesinne aan die lewe te hou.

“Ons het nie ander heenkome nie. Ek het nie meer ouers nie- en bly nou al vir die afgelope drie jaar hier,” het Dolly gesê.

Verder, is dit ’n daaglikse proses om heen-en-weer bykans vyf kilometer af te lê om water te gaan tap.

Vir die kleine Lorenzo is die stortingsterrein al speelplek wat hy ken.

Lyntjie Jaars, wat haar bemoei met maatskaplike uitdagings sê dit is moeilik om te aanvaar dat mense in sulke omstandighede kan woon.

“Dit is feestyd, ’n tyd van omgee. Dit is hartroerend om te sien dat ons eie mense geen heenkome het nie.”

Jaars het ’n beroep gedoen op die regering en plaaslike regering om in te gryp.

Nuus

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

error: Content is protected !!