Radio NFM Nuus

Die betroubare stem van die Namakwa mense

Provinsiale drankraad bring hernuwingsproses na Namakwa
Illustrasie foto: Kelsey Chance on Unsplash

SPRINGBOK: Plaaslike dranklisensiehouers hoef nou nie meer na Kimberley te reis vir ‘n hernuwingsproses of om beboet te word vir laat aansoeke nie.

Sakemanne en vroue in besit van ‘n dranklisensie het tot vandag 15:30 om dit te hernu op Springbok.

Die Noord-Kaap se drankraad het reeds gister in die Namakwa-distrik begin om dié hernuwingsproses na die streek te bring.

Kabelo Kapanda wat verantwoordelik is vir lisensiëring in die provinsie het gesê vanjaar is die eerste keer wat hulle die diens na die streek bring.

Kapanda het gesê baie lisensiehouers kan nie betyds hernu nie, omdat dit slegs vanuit die kantoor in Kimberley gedoen word.

“Ons wil verhoed dat dranklisensiehouers beboet word omdat hulle nie betyds in Kimberley kan aankom nie.”

Hernuwing van dranklisensies word gedoen by die Springbok polisie klubhuis. Vir verdere navrae kan Kabelo Kapanda gekontak word by die volgende nommer: 0716822351.

Die funksie van die Noord-Kaapse Drankraad onder die departement ekonomiese ontwikkeling en toerisme, is om die registrasie van kleinhandelverkope en mikrovervaardiging van drank in die provinsie te reguleer.

Die Raad is daartoe verbind om verantwoordelike verbruik van drank te bevorder en om die sosio-ekonomiese probleem as gevolg van alkoholmisbruik in die provinsie te verminder.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Live Updates COVID-19 CASES