Radio NFM 98.1

Die stem van die Namakwa mense

Oom lewenslank gevonnis vir verkragting van familielid
Illustrasie foto: Luis Galvez on Unsplash

’n 32-Jarige man is tot lewenslank in die Mothibistad streekhof gevonnis vir die verkragting van ’n 18-jarige vrou.

Die verkragter is die oom van die slagoffer.

’n Polisie-woordvoerder, Brigadier Mohale Ramatseba het gesê die vonnis word veral verwelkom gedurende die jaarlikse 16 Dae van Aktivisme veldtog vir geen geweld teen vroue en kinders.

Die verkragter is op 05 Desember gevonnis.

Ramatseba het gesê die slagoffer het haar oom in Batlharos gaan besoek en moes oorslaap omdat dit alreeds te laat was om ’n taxi terug huis toe te neem.

Die oom het die slagoffer twee keer daardie aand verkrag.

Die gemene vent het die slagoffer, wat ook sy familie-lid is, die volgende oggend met die dood gedreig indien sy iemand van die insident sou vertel.

“Die slagoffer het daarin geslaag om weg te kom en het daarna haar kêrel van die insident in kennis gaan stel. Die kêrel het die inisiatief geneem om die saak by die polisie aan te meld.”

Ramatseba sê die verkragter is gevolglik in hegtenis geneem en borgtog toegestaan.

Hy sê die Noord Kaapse provinsiale kommissaris, Luitenant-Generaal Risimati Peter Shivuri het die vonnis verwelkom en die ondersoekbeampte toegejuig vir ’n deeglike ondersoek.

“Die vonnis sal nie die emosionele littekens van die slagoffer genees nie, maar dit sal sekerlik ’n boodskap aan ander oortreders stuur wat meen dat hulle die reg het om vroue te mishandel en ook dat die arm van die gereg altyd sal seëvier,” het Shivuri gesê.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *