Radio NFM 98.1

Die stem van die Namakwa mense

OPVOLG: Politikus sny eie polse nadat hy eie baba glo met mes vermoor
David Ockhuys (43) het na bewering sy eie baba met 'n mes doodgesteek. Foto: Facebook.

Die polisie in die Noord-Kaap het bevestig dat die 29-jarige ma van die vermoorde baba op Loeriesfontein, die wettige voog was.

Brigadier Mohale Ramatseba, provinsiale woordvoerder vir die polisie het gesê die pa, David Ockhuys het sy twee kinders by sy vervreemde vrou, Andrietta Ockhuys gaan haal.

David is ’n politikus wat destyds in die premier se kantoor gewerk het, en Andriette ’n maatskaplike werker.

Volgens Ramatseba wou Andrietta die kinders terug in haar sorg hê, maar voordat dit kon gebeur het David glo die sewe maande oue baba met die mes gesteek.

“Die baba is op die toneel deur mediese personeel doodverklaar.”

Luidens berigte het David glo ook sy eie kind met ’n mes aangeval voordat hy sy eie polse gesny het.

Ramatseba het gesê David is onder polisie toesig in die hospitaal en dat hy vir moord in die hof sal verskyn wanneer hy ontslaan word.

Gizella Opperman, ’n parlementslid vir die DA en ‘n voormalige raadslid vir Loeriesfontein het haar misnoë vir dié gru-moord van die sewe maande oue baba op Facebook uitgespreek.

“My hart is bitter seer soos net ‘n mamma se hart kan pyn oor die geweldadige gebeure vroeër vandag in my dorp Loeriesfontein.”

“’n Welbekende politieke leier van Loeriesfontein het sy 7 maande oue baba met ’n mes doodgesteek en homself daarna probeer doodmaak.”

Opperman het verder gesê haar kiesafdeling gaan swaar gebuk onder geweldadige misdaad en verkragtings van minderjarige kinders so jonk soos 2- jaar oud soos die afgelope 2 weke in Calvinia geskied het.

Sy sê die dorpe kort dringende ingryping.

“Ons dorpe kort ingryping. Dringend. Nie bloot ’n verklaring deur die polisie kommissaris wie geweldsmisdaad sterk veroordeel nie.”

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *