Radio NFM 98.1

Die stem van die Namakwa mense

VIDEOS: Kharkams inwoners se eindlose stryd teen die droogte
Jacobus Witbooi (71), 'n koster by die plaaslike Methodiste kerk op Kharkams by die dam waar inwoners reënwater kom skep het. Foto: Jason Milford

Die feesseisoen was vir die inwoners op Kharkams een van ’n eindelose stryd teen droogte.

Inwoners kla dat die ewekansige vloei van water voor Kersfees, én nou na die nuwe jaar net vir ’n half-uur en soms vir minder as een uur beskikbaar is.

Radio NFM se nuusspan het ’n besoek aan Kharkams afgelê en gevind dat die huidige bron van water aan die gemeenskap, ook uitgeput is.

’n Dam in die Methodiste kerk se perseël wat reënwater opvang, kon vir ’n kort wyle in waterbehoeftes vir huishoudelike gebruik voorsien.

Maar ’n inwoner het laat hoor dat hul selfs dié water moes drink.

Die kerk-koster, Jacobus Witbooi (71) het aan Radio NFM Nuus gesê die onreëlmatige voorsiening van water word as “beurtwater” geïmplimenteer.

“Die gemeenskap kan nie staatmaak op die voorsiening beurtwater nie- en moes maar dié reënwater drink of dit nou gesondheidsrisiko’s inhou of nie,” het Witbooi gesê.

’n Plaaslike sakeman, Johannes Smith sê nie almal het voertuie om by nabygeleë windpompe water gaan haal nie.

“Hier is bejaardes op die dorp wat baie swaarkry sonder water. En as die mense nie kan betaal dat iemand vir hulle water moet gaan haal nie, dan moet hulle maar daarsonder klaarkom.”

’n Verteenwoordiger van die Kamiesberg munisipaliteit, Petro Willems het gesê hulle is bewus van die uitdagings.

Willems het gesê die pomp wat water aan Kharkams voorsien, het opgepak.

“Ons is in gesprekke met die verskaffer en hoop om binnekort die pomp te herstel.”

Willems het bygevoeg dat daar ander pompe is wat deur middel van sonkrag water voorsien, maar dat die kwantiteit nie naastenby genoeg is om daagliks in die dorp se behoeftes te voorsien nie.

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *