Radio NFM 98.1

Die stem van die Namakwa mense

NUUSFLITS: Polisiekonstabel op Upington doodgesteek
Konstabel Stefano Visagie is dood in 'n kamer op Keimoes aangetref. Foto: Facebook.

Die gemeenskap van Rosedale op Upington is uit op bloed nadat die liggaam van ‘n polisiekonstabel gisteroggend op Keimoes met noodlottige meswonde ontdek is.

‘n Nasionale woordvoerder vir die polisie, Brigadier Vish Naidoo het bevestig dat die Konstabel gisteroggend in ‘n huis op Keimoes vermoor is.

Sleutelbordkrygers is warm onder die kraag en het hul misnoë op sosiale media uitgespreek.

Die inskrywings lui dat Konstabel Stefano Visagie glo deur ‘n Nigeriese burger vermoor is.

“Hy was op besoek by ‘n vriend en het besluit om oor te bly. Hy is in die slaapkamer dood aangetref,” het Naidoo gesê.

Naidoo het gesê dit wil voorkom asof die aanvallers deur die slaapkamervenster toegang verkry het.

“Sy liggaam is met steekwonde ontdek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Hy sê Generaal Khehla Sithole het die 72 uur-aksieplan geaktiveer om kritieke hulpbronne soos misdaadintelligensie, Valke, forensiese kundiges en speurders van die polisie te mobiliseer.

 

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *