Radio NFM 98.1

Die stem van die Namakwa mense

Calvinia-gemeenskap steek bendes in die pad
Die Calvinia-gemeenskap het bendelede en ander misdadigers in die pad gesteek. Fotos: Verskaf.

Kwaaddoeners op Calvinia moes stert tussen die bene spore maak toe die gemeenskap vandeesweek in groot groepe opgeruk het om die spul uit die dorp te jaag.

’n Lid van die gemeenskap, Selvyn Theys (35), sê bende-bedrywighede het die gemeenskap in ’n staat van weerloosheid geplaas en dit het hom bang gemaak.

Nadat die gemeenskap in getalle opgedaag het, het die plaaslik bekende bende-groep, die Terrible Joster Gang, die hasepad gekies.

“Die dinge wat in ons samelewing gebeur veral waar ons jongmense benadeel was, moes einde kry.”

Hy vertel dat die bende van ander plekke af gekom het om verwoesting op die dorp te saai.

Theys sê lede van die bende het by jong vroue betrokke geraak en “die vroue was afgepers om in ‘verhoudings’ saam met die bendelede te bly.”

“Die jong vroue was met beeldmateriaal van sekere aktiwiteite afgepers – en sodoende het die bende ’n houvas op die vroue gehad.”

“Ons as ’n gemeenskap kon dit nie meer aanskou nie.”

“Ek het een aand wakker gelê- en dink hoe ons die bendes en misdaad op ons dorp kan aanspreek,” het Theys gesê.

Hy sê dat hy toe die volgende dag ’n inskrywing op sosiale media gemaak het, en dat die gemeenskap se reaksie hom ‘heeltemal verbaas’ het.

Theys het verder, ’n gemeenskapsvergadering saamgeroep waar ander leiers in die gemeenskap, staatshoofde en die polisie ook bygewoon het.

“Ons het ’n plan gehad en ons het dit uitgevoer. Ons het na die kwaaddoeners se huise gegaan sodat hulle kan weet ons gemeenskap behoort aan ons, en nie aan misdaad nie.”

Hy sê alhoewel die afgelope week se sigbaarheid en aksies wat deur die gemeenskap uitgevoer is, suksesvol was, hulle in die komende week wéér strate toe gaan.

“Ons gaan Sondag ’n gemeenskapsvergadering gou, en Maandag sal ons weer voortgaan met bewusmaking om ons dorp weer veilig te maak.”

Hy het egter gesê hy hoop dat meer mense sal inkoop om ’n veiliger dorp te hê.

“Daar is plaaslike raadslede wat ons heelhartig ondersteun, maar daar is ook dié wat nie die inisiatief goedkeur nie. Ons het almal se insette nodig om suksesvol te wees.”

Theys noem ook dat daar gevalle was waar lede ‘handuit’ geruk het en deur die polisie in hegtenis geneem was.

“Ons betoog teen misdaad, dwelms en die uitbuiting van ons vroue en kinders, ons hits nie geweld aan nie. Daarom is dit belangrik dat die gemeenskap daarop moet let om nie vandalisme in die proses te pleeg nie,” het Theys gewaarsku.

Hy sê die doel is om eenheid in die gemeenskap te vorm en nie verdeeldheid nie. “Ons sal ook ons samewerking aan die polisie gee indien dit benodig word.”

Please follow and like us:
Dagboek

One thought on “Calvinia-gemeenskap steek bendes in die pad

  1. Knap gedaan Calvinia. Ek hopp die hele Noordkaap volg jul voorbeeld. Miskien is dit agv. die bendes wat die reen ook wegbly. Mag God julle Hartl ik Seen met alles waarvoor julle vra!! Amen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *