Radio NFM 98.1

Die stem van die Namakwa mense

Noord-Kaap misdaadnuus
Foto: saps.gov.za

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die provinsie verwelkom die vonnisoplegging van verkragting wat onlangs aan ‘n 35-jarige man van Delportshoop in die streek Barkly-Wes oorhandig is. Die beskuldigde is tot 25- jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die misdaad.

Op 25 Augustus 2018 omstreeks middernag het ‘n 38-jarige vroulike slagoffer in haar huis in Delportshoop geslaap toe sy deur die beskuldigde wakker gemaak was.

Op daardie stadium, was die die beskuldigde nog haar kêrel.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Kaptein Sergio Kock het gesê die beskuldigde het haar wakker gemaak en geëis om met haar seks te hê.

“Die slagoffer het geweier en is aangerand deur die beskuldigde wat haar klere met geweld verwyder en haar twee keer verkrag het. Die beskuldigde is dieselfde middag gearresteer en die polisie het borgtog suksesvol teengestaan.”

Kock het gesê die beskuldigde het in aanhouding gebly tot sy vonnisoplegging.

Die provinsiale hoof vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in die Noord-Kaap, Brigadier Nicky Mills, prys die ondersoekbeampte, konstabel Patience Fortuin, vir haar harde werk en noukeurige ondersoek wat tot hierdie uitsonderlike vonnis gelei het.

_________________________

Op Woensdag 22 Januarie 2020 is ‘n 26-jarige man op Kuruman gearresteer.

‘n Polisiesersant op Kuruman was besig om voetpatrollie in Livingstonestraat te doen, toe hy ‘n onbekende man opmerk in die rigting van die taxi-staanplek op die dorp.

Die sersant het die man genader, maar het toe spore gemaak.

Die sersant het die verdagte te voet agterna gesit en gevind dat hy agter in een van die taxi’s wegkruip. Hy het opgemerk dat die verdagte ‘n kosblik het en by nadere ondersoek is ‘n onbekende bedrag kontant daarin gevind.

Die verdagte kon nie verduidelik waar hy die geld vandaan kry nie.

Verdere ondersoeke het vasgestel dat ‘n 72-jarige vrou beroof is van haar kosblik met ‘n onbekende bedrag geld in.

_________________________

Speurders in die Warrenton-polisiekantoor onder bevel van die speurderhoof, kaptein Willem Fourie, het op 22 Januarie in die dorpsgebied opsporingsaksies onderneem met die fokus op huisbrake en diefstal.

Die span speurders het altesaam 12 manlike verdagtes gearresteer vir verskillende huisbraakgevalle wat in die gebied gepleeg is. Verskeie gesteelde goedere wat duisende rande beloop, waaronder skootrekenaars, selfone, klere, televisiestelle, drank, elektriese stowe en ander items wat tydens die inbrake gesteel is, teruggevind is.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Kolonel Mashay Gamieldien het gesê huiseienaars word versoek om seker te maak dat hul alarmstelsels geaktiveer is en seker te maak dat alle vensters, veiligheidshekke en openinge beveilig en gesluit is as daar nie toesig oor die huis is nie.

Twaalf verdagtes het op 24 Januarie 2020 in die Warrenton-landdroshof verskyn op aanklagte van huisbraak en diefstal.

_________________________

Die streekhof in Galeshewe het die 34-jarige Maria Maditlhare Tlailane Woensdag, 22 Januarie, tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir huisbraak en diefstal by staatskantore in Kimberley.

In Julie 2016 het ‘n medepligtige Tlailane toegang tot die Valke se kantore verleen nadat hulle ‘n drankie met ‘n onbekende giftige stof aan ‘n veiligheidswag gegee het. Die duo het toe die gebou binnegegaan en die kluise met behulp van slypkringe oop gedwing.

Kontant en ander waardevolle waardes ter waarde van R183 000-00 is gesteel. Tlailane is in Desember 2016 in hegtenis geneem ná ‘n ondersoek.

_________________________

Die Noord-Kaapse polisiebestuur verwelkom ‘n lewenslange tronkstraf wat op Vrydag, 24 Januarie aan ‘n verkragter, Karneels Moteme, oorhandig is.

Moteme (25), sal die res van sy lewe agter tronkmure deurbring vir die verkragting van sy 25-jarige niggie.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Kaptein Olebogeng Tawana het gesê Karneels het sy niggie in 2018 verkrag.

“Op die dag van die misdaad het die slagoffer van ‘n partytjie in ‘n buurt op Kathu gestap en hy het haar aangeval, haar met ‘n bottel oor die kop geslaan en haar na ‘n nabygeleë erf gesleep en verkrag.”

Die slagoffer is in die hospitaal opgeneem en behandel vir beserings wat sy beskuldigde opgedoen het.

Die John Taolo Gaetsewe groepsbevelvoerder, Majoor-Generaal Johan Bean het die ondersoekbeampte toegejuig vir ‘n uitstekende ondersoek.

“Hierdie lewenslange vonnis sal as ‘n afskrikmiddel vir misdadigers dien, en hulle sal leer dat hulle geen plek in ons samelewing het nie,” het Bean gesê.

 

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *