Radio NFM 98.1

Die stem van die Namakwa mense

Leerders ontvang skenkings van skoolklere
Leerders verbonde aan Hoërskool SA van Wyk saam met hul onderwyser, Margaret Cloete. Foto: Verskaf.

Sowat 16 leerders aan die Hoërskool SA van Wyk op Bergsig kan nou hul nuwe skooljaar met gemak bywoon nadat hulle vandeesweek skenkings van skool-uitrustings en skryfbehoeftes ontvang het.

Dié projek is van stapel gestuur deur Namakwaland se onderwys-heldin, Margaret Cloete om minderbevoorregte leerders te help.

Die skenkings is ook moontlik gemaak deur ’n Christelike organisasie, HPC Ministries.

Ricardo Kermis (RickyK), ’n bekende stem op Radio NFM en ook ’n welwillendheidswerker sê hy is verheug omdat mense steeds hul harte oopmaak vir diegene wat minder het.

Kermis is betrokke by verskeie skole, organisasies en sport in die Namakwa distrik waar hy homself beywer met jeugontwikkeling.

“Ons hoef eintlik nie ons hande so diep in ons sakke te steek om ’n verskil te maak nie. Hoe meer mense ons kry om slegs ’n minimale donasie te maak, hoe meer kan ons doen vir jongmense wat dit nie breed het nie.”

Kermis meld dat sosiale tegnologie en klere-modes ’n tendens geword het wat dié wat minder het, se moraal kan skend.

“Elke ouer wil vir hul kinders die beste gee, soms ten spyte van hul omstandighede. Ons moet leer om uit te reik na mekaar en ons jeugdiges leer om omgee vir mekaar en dieper te kyk na maatskaplike uitdagings,” het Kermis laat hoor.

Kermis sê die skenking aan die leerders van Hoërskool SA van Wyk het hul menswaardigheid herstel, want dit was nie tweedehandse goed wat hulle ontvang het  nie.

“Hierdie leerders sal uitblink op skool en sodoende die skool se naam hoog hou, want daar was ’n engel wat hom oor hulle ontferm het.”

Please follow and like us:
News

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *