Soektog na Gamsberg-mynwerker duur voort

0

Die Vedanta Zinc Internasionale Groep (VZI) se Gamsberg-sinkmyn, tussen Aggeneys en Pofadder, in die Noord-Kaap, se suid-put het vroeg verlede week ineengestort.

Die Aggeneys-gemeenskap en omliggende dorpe is steeds in rou en skok gedompel, nadat die grondstorting ook die lewe van Melvin Saal geneem het.

Grondverskuiwingsmasjienerie was ingespan, om te help met die soektog na nog ‘n vasgekeerde mynwerker.

‘n Bestuurder by VZI se Gamsberg-projek, Pieter Van Greunen het verlede week die grondstorting bevestig en gesê dat tien mans aanvanklik in die ongeluk vasgekeer was.

Saal se liggaam is gevind, nadat agt mynwerkers verlede week tot veiligheid gebring was.

“Die myn se Christo Witbooi sê alles moontlik word gedoen om die laaste mynwerker op te spoor.”

Van Greunen, het Saal as ‘n betroubare en hardwerkende man beskryf.

Hy het ook sy medelye aan Saal se vrou, kinders, familie, vriende en kollegas oorgedra.

Die myn se soek- en reddingspanne is steeds op die toneel om intensief te soek na die laaste, vasgekeerde mynwerker.

Leave A Reply

Your email address will not be published.