Polisie vind meer as R40 000 se tik in joghurthouer

0

Die Noord-Kaapse polisie doen alles in hul vermoë om die ruimte vir misdadigers in die provinsie te minimaliseer, veral tydens die aangepaste vlak drie inperkinsregulasies.

Die polisie het in samewerking met die Kimberley honde-eenheid vroeër vandeesweek, drie verdagtes op klagtes van dwelmhandel vasgetrek in Beaconsfield in Kimberley.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Kolonel Mashay Gamieldien het gesê dat die polisie waarnemingspligte in die omgewing van die huis uitgevoer het, om die verdagtes se bewegings te monitor.

Die polisie het daarna met behulp van ‘n lasbrief op die huis toegeslaan.

Met die polsiie se aankoms by die huis, het hulle ‘n man gevind wat buite die huis gesit het.

Voordat die polisie hom kon deursoek, het hy ‘n wit stof vinnig afgesluk.

Na verdere deursoekings van sy Toyota Yaris het die polisie khat-tablette, versteek onder die voertuig se paneelbord, met ‘n geskatte waarde van R3000 gevind.

Die polisie het gevolglik die huis ook deursoek, waar hulle ‘n man en vrou teëgekom het.

“Tydens die deursoekingsoperasie van die huis, het hulle tik gevind wat weggesteek was in ‘n leë jogurthouer, met ‘n beraamde straatwaarde van R48 900.”

Die polisie het die dwelms gekonfiskeer en daar is ook op die voertuig beslag gelê, aangesien dit gebruik is in die pleging van ‘n misdaad.

Drie buitelandse burgers, een vrou (27) en twee mans van onderskeidelik 20 en 29 jaar oud is in hegtenis geneem, en aangekla vir die handel in dwelms.

Die drie verdagtes sal binnekort in die streekhof in Kimberley verskyn.

Leave A Reply

Your email address will not be published.