Veertien vas vir openbare geweld op Postmasburg

0

Die polisie op Postmasburg het gister 14 verdagtes in hegtenis geneem, op klagtes van kwaadwillige beskadiging van staatseiendom, aanhitsing tot openbare geweld en oortreding van die Nasionale Wet op Rampbestuur.

‘n Woordvoerder vir die polisie, Brigadier Mohale Ramatseba het bevestig dat twaalf mans en twee vroue, tussen die ouderdomme van 19 en 35 jaar oud, deel was van ‘n groep van 300 mense.

Ramatseba sê dat die groep mense op 31 Desember 2020, omstreeks tien uur die aand, in die openbaar gedrink het op Postmasburg.

“Toe die polisie wou ingryp, het lede van die ‘drinkgelag’ die polisie met klippe en bierbottels bestook.”

Tydens die gebeurtenis, is drie polisievoertuie beskadig, en die skade word beraam op sowat R250 000.

Die waarnemende provinsiale kommissaris in die Noord-Kaap, generaal-majoor Henriette de Waal, het die inhegtenisneming van die verdagtes verwelkom.

“Die nakoming van die Nasionale Wet op rampbestuur is ononderhandelbaar, en oortreders sal die volle mag van die wet in die gesig staar,” benadruk generaal-majoor de Waal.

Die verdagtes sal na verwagting binnekort voor die plaaslike landdroshof verskyn.

Die polisie se ondersoeke duur voort.

Leave A Reply

Your email address will not be published.