Noord-Kaap onderwys vra vir ouers se geduld

0

Die Noord-Kaapse departement van onderwys het in ‘n amptelike mediaverklaring, om verskoning gevra vir die vertraging in die plasing van leerders vir die skooljaar 2021.

Die departement se woordvoerder, Geoffrey Van der Merwe het egter die publiek verseker, dat alle plasings gedoen sal word voordat skole op Woensdag, 27 Januarie 2021 heropen.

Die departement werk saam met hul distrikskantore, om alle uitstaande plasingsaanbiedings so spoedig moontlik af te handel.

Van der Merwe het gesê dat die departement altesaam 40 949 aansoeke vir die akademiese jaar 2021, in alle grade ontvang het.

“Tot op hede is 29 288 plasingsaanbiedings gegenereer en aan ouers gestuur. 23 923 Van hierdie ouers het reeds die plasingsaanbod aanvaar en 5 365 is nog hangend.”

Die  departement voeg by dat skoolbevolking in die Noord-Kaap, gemiddeld 305 000 leerders vir die afgelope drie jaar is, wat beteken dat 3,8% van die totale leerderbevolking in die provinsie steeds geplaas moet word.

11 661 Plasingsaanbiedinge moet nog ontvang word in die provinsie.

Die Namakwa-distrik het 4 031 uitgereikte aanbiedings, met 121 uitstaande aanbiedinge.

Die aanlyn toegangstelsel is tans oop vir laat toelating.

Alle ouers/wettige voogde wat nog nie aansoek gedoen het vir die toelating tot ‘n gewone gewone skool nie, moet vanaf 11-18 Januarie 2021 aansoek doen via die webwerf www.ncdoeadmissions.org.

Ouers wat reeds aansoek gedoen het, hoef nie weer aansoek doen nie.

Van der Merwe het gesê ouers wat verkies om die aanbod vir plasing te weier, sal hul plek verloor en moet aanvaar waar daar plek is.

“Indien ‘n ouer ontevrede is met die besluit van die distriksdirekteur, kan die ouer binne 7 dae na die kantoor van die LUR appelleer. Die ouers sal ‘n appèlvorm moet invul en elektronies by die kantoor van die LUR indien.”

Die Departement het ‘n Google-vorm vir ouers opgestel wat hulle gemaklik tuis, per selfoon of rekenaartoestel kan invul.

Ouers moet die volgende skakel gebruik: tiny.cc/appeal2021 om hul vorm te voltooi.

Dit sal verseker dat die departement alle COVID-19-regulasies nakom, en verhoed dat ouers by die distrikskantore en inloopsentrums kan toustaan.

Van der Merwe het ‘n beroep op ouers gedoen om die departement se aanlynplatforms uit te put, voordat hulle enige fisiese kontak met die departement maak.

“Dit is raadsaam dat alle ouers wag totdat hulle ‘n aanbod vir plasing ontvang het, voordat hulle die instapsentrums besoek het. Die instapsentrums per distrik sal ouers wat nie toegang tot die aanlyn-toegangstelsel het nie, help om hul plasingsaanbod te aanvaar of te weier, of om ‘n aansoek om laat toelating in te dien. As ouers enige tegniese uitdagings ondervind, raai ons u aan om ons tegniese inbelsentrum te kontak by: 053 874 7239/7161/7292/7064/7189/7012.”

Van der Merwe het bygevoeg dat hulle die frustrasie verstaan, wat hierdie vertraging kan veroorsaak het.

Nietemin vra hulle vir alle ouers en voogde se geduld.

“Alle leerders sal by ‘n skool geplaas word, maar die Departement kan ongelukkig nie die plasing by die skool verkies nie. Ons het ons spanne wat aan die toelatings gewerk het, aangevul in ‘n poging om die proses van plasing vinnig te volg. Ons sal die publiek gereeld op hoogte hou van die status en vordering met die toelatings in 2021.”

Leave A Reply

Your email address will not be published.