Fetale alkoholsindroom-dag word vandag gevier

0

Fetale alkoholsindroom-dag word jaarliks op 9 September gevier.

Dit is ‘n geboortetoestand waar kinders kenmerkende fisiese en geestelike afwykings toon.

Die sindroom is ’n werklikheid en word veroorsaak wanneer ʼn swanger vrou alkohol tydens swangerskap gebruik.

Die alkohol word in die swanger vrou se bloedstroom opgeneem en bereik binne 20 minute na inname, die ongebore baba of fetus.

Alkohol is dus giftig vir die ongebore baba.

Enige orgaan van die ongebore baba kan beskadig word, maar die ontwikkelende brein is veral baie kwesbaar.

In ‘n 2017 publikasie van die American Medical Association journal JAMA Pediatrics, het dit getoon dat Suid-Afrika die hoogste voorkoms van FAS in die wêreld het.

Fetale alkoholsindroom (FAS) is dalk nie iets waaraan gereeld gedink word nie, want daar is ‘n persepsie dat dit slegs die lae-inkomste bevolkingsgroepe, FAS kan opdoen.

Dit dui op die hele spektrum van afwykings wat kan voorkom wanneer ’n baba in die baarmoeder aan alkohol blootgestel word en sluit die volgende in:

Alkoholverwante neuro-ontwikkelingsdefekte

Kinders met hierdie afwykings het breinskade, maar geen ander ooglopende tekens en simptome nie, en ook geen ander orgaanbeskadiging nie.

Om hierdie diagnose te maak, vereis noukeurige neuro-ontwikkelingstoetsing, deur gebruik te maak van sielkundige toetse wat spesiaal hiervoor ontwikkel is.

Kinders met hierdie toestand word dikwels verkeerdelik geëtiketteer as stout, hiperaktief en/of aandagafleibaar.

Alkoholverwante geboortedefekte

Kinders word soms gebore sonder die kenmerkende tekens en simptome van FAS, maar met beskadigde organe (bv. hart, oog, hand en ander defekte).

Die diagnosering van hierdie kinders is geweldig kompleks en benodig intensiewe kundigheid.

Om geen alkohol tydens swangerskap te drink nie, is die veilige en aanbevole antwoord om FAS te vermy.

Selfs een glasie alkohol mag skadelik wees.

FAS is wêreldwyd ’n groot probleem.

Suid-Afrika is steeds die land met die hoogste aantal gedokumenteerde Fetale Alkohol Spektrum Sindroom-lyers in die wêreld.

Volgens statistiek, is daar in Suid-Afrika 585.3 lyers per 10 000 mense en die probleem kom 30 tot 50 keer meer algemeen as Downsindroom voor.

Die skade aan die ongebore baba (fetus) is permanent en onomkeerbaar as ‘n swanger vrou drink, maar die sindroom is 100% voorkombaar deur bloot nie alkohol tydens swangerskap in te neem nie

Die skade wat aangerig word kan die volgende behels:

Groeivertraging (kinders is klein van postuur).
Enige orgaan kan beskadig word, veral die brein, hart, oë, ore, ens.
Die vorming van die kind se gesig kan geaffekteer word.
Breinskade het lewenslange verhoudings- en leerprobleme tot gevolg.

Hoe word FAS gediagnoseer?

Die diagnosering van FAS kan slegs deur opgeleide spesialiste deur middel van die volgende gedoen word:

Kliniese ondersoeke (IOM model).
Neuro-ontwikkelingstoetsing (spesifieke sielkundige toetse ontwikkel om FAS te diagnoseer).

Intensiewe onderhoud met moeder (om tipe en hoeveelheid van alkoholgebruik tydens swangerskap vas te stel).

Bogenoemde bevindings word vergelyk en slegs as al drie positief is, word daar volgens graderings ’n diagnose van Fetale Alkohol Spektrum-afwykings gemaak.

Om FAS te voorkom kan die volgende gedoen word:

Dit is uiters belangrik dat soveel mense as moontlik die boodskap ontvang sodat almal kan saamstaan om swanger vroue te ondersteun, vir hulle om nie alkohol tydens swangerskap te gebruik nie.

Vriende, familie en die vader van die ongebore kind het ’n reuse verantwoordelikheid in hierdie opsig.

Leave A Reply

Your email address will not be published.