Alkoholverbruik plaas gesondheidswerkers onder druk

0

“Die koop en handel in alkohol word nie toegelaat nie.”

Dit is volgens President Cyril Ramaphosa, toe hy gisteraand die nasie toespreek oor die land se vordering met die COVID-19 pandemie.

Die president het wel genoem dat die drankbedryf ‘n belangrike werkgewer en bydraer tot die ekonomie is, maar dat die land se prioriteit nou is om lewens te red.

Die president het gesê dat die verbruik van alkohol, geweldige stres op gesondheidswerkers en hospitale plaas, omdat dit die aantal trauma-gevalle in hospitale laat toeneem het.

Wat meer kommerwekkend is, is dat hospitale rapporteer dat hulle op of naby die maksimum kapasiteit is.

“Gesondheidswerkers is uitgeput en kragteloos, boonop word die gevalle by die dag meerder en hulle word ook geïnfekteer met die virusinfeksie.”

“Hulle is amper op breekpunt,” het die president gesê.

“Dit alles as gevolg van ons optrede, en die versuim om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons en ons naaste se gesondheid. As ons nie nou drasties optree nie, sal baie lewens verlore gaan.”

Nagklubs en besighede wat drank verkoop, mag nie besigheid doen nie.

Nóg ‘n opvallende verandering is dat dit nou verpligtend is, vir elke persoon om ‘n masker in ‘n openbare ruimte te dra.

Mense wat nie ‘n lapmasker, oor die neus en mond op ‘n openbare plek dra nie, pleeg ‘n oortreding.

Iemand wat nie ‘n masker dra nie, kan in hegtenis geneem en vervolg word.

“By skuldigbevinding sal hulle strafbaar wees met ‘n boete of gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens ses maande of met beide ‘n boete en gevangenisstraf”, het die president gesê.

Dit is ‘n drastiese maatreël, maar is nou nodig om te verseker dat die basiese voorkomingsmaatreëls nagekom word.

Leave A Reply

Your email address will not be published.