Black Mountain Mine agt aktiewe COVID-19 gevalle

0

Die algemene bestuurder by Gamsberg-Myn buite Aggeneys, Pieter Van Greunen en die direkteur van Black Mountain myn, het NFM Nuus vertel hoe die myn en Aggeneys-gemeenskap COVID-19 ervaar.

“Huidiglik gaan die myn deur ‘n pandemie wat die mat onder almal se voete uitgeruk het.”

Van Greunen het gesê die pandemie het ‘n groot impak op die manier hoe die myn deesdae besigheid doen.

Die myn maak staat op 100% -werksmag vir beide oopgroef- (Gamsberg) – en ondergrondse-myne (Deeps/Swartberg).

Die myn is daarop gefokus om die veiligheid en gesondheid van hul werksmag en omgewing te behou.

Dit is baie belangrik dat elke werknemer verantwoordelikheid aanvaar vir hul eie aksies.

Black Mountain Myn het tans elf bevestigde positiewe gevalle van COVID-19, waarvan drie pasiënte herstel het.

Dit laat die myn met agt aktiewe gevalle van die koronavirus.

Die eerste drie gevalle het ontstaan deur interprovinsiale reis vir mediese redes.

Volgens die myn se prosedures, moet werknemers wat interprovinsiaal gereis het, vir veertien dae self-kwarantyn of negatief toets vir COVID-19, voordat hulle vir diens aanmeld.

Die persone het dus nie in kontak gekom met ander werknemers nie.

Die vierde geval was bevestig nadat die persoon in kontak was met ‘n positief getoetsde pasiënt in Namakwaland.

Die myn is onmiddellik in kennis gestel nadat hy bewus gemaak is, dat hy in noue kontak met ‘n positief bevestigde COVID-19 geval was.

Alle werknemers wat in noue kontak met die person was, is in kwarantyn geplaas.

49 Werknemers was getoets en ses hiervan, het positief getoets.

Die elfde geval was ‘n persoon wat simptome getoon het van COVID-19 en toe positief getoets het.

Van Greunen bedank die werknemers vir hul spoedige reaksie op moontlike gevalle en dat hulle die prosedures, wat uiteengesit is, deeglik volg om die verspreiding van die virus te bekamp.

Black Mountain Myn het baie streng beleide rondom die COVID-19 pandemie, wat verskeie maatreëls insluit voordat ‘n werknemer die myn mag betree:

  • Werknemers se temperature word gemeet by die ingang van die myn;
  • Handontsmettingsmiddels is by elke ingang en openbare spasie geplaas, om te verseker werkers ontsmet hul hande voordat hulle die myn betree en wanneer hulle die myn verlaat;
  • Die busse asook draaihekke word elke dag ontsmet;
  • Toesighouers en voormanne doen sifting op ‘n daaglikse basis;
  • Werknemers wat van die huis af kan werk word toegelaat om van die huis af te werk;
  • Die myn het aan elke werknemer maskers voorsien.

Gedurende die COVID-19 pandemie het Black Mountain Mine Complex CSR verskeie liefdadigheids-inisiatiewe onderneem, onder andere:

  • Meer as 600 versorgingspakkette (kospakkies) aan die Khai-Ma-gemeenskappe (Pella, Pofadder, Witbank en Onseepkans) uitgegee.
  • 50-liter handontsmettingsmiddels aan die Khai-Ma-munisipaliteite en die Namakwa-distrik.
  • Groot versorgingspakkette en doeke vir volwassenes in die 4 ouetehuise en die 2 sentrums vir gestremdhede in die munisipale gebiede – Khai-Ma en Nama Khoi.
  • Water vir die Khai Ma SAPD tydens padblokkades.
  • Higiëniese-noodsaaklikhede soos risiko-beheerpakke, maskers, veiligheidsbrille en hand-ontsmettingsmiddels aan distriksowerhede.
  • Versorgingspakkette aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
  • Versorgingspakkette vir die Pella-, Pofadder- en Onseepkans Missions.
  • Maskers aan die gemeenskappe en skole in die Khai-Ma munisipale area.
  • Termometers aan die skole in die Khai-Ma munisipale area.
  • Voedselprodukte (Vleis) aan die Pofadder Ouetehuis en – Kinderhuis.

“Van waar ek staan lyk dit asof die virus versprei het omdat mense die basiese reëls verontagsaam. Ons moet die grootheid van die pandemie nie uit die oog uit verloor nie.

Oorwinning sal slegs deur samewerking en gehoorsaamheid behaal word.

Onthou om die wetgewing te gehoorsaam: Dra jou masker ten alle tye oral waar jy gaan, geen sosiale byeenskomste, hou die sosiale afstand van 2 meter, was jou hande gereeld en meld asseblief aan indien jy enige simptome ervaar.

Onthou dat JY die oplossing is”. het van Greuen gesê.

Black Mountain Mine Complex is daaraan toegewy om te verseker dat plaaslike gasheergemeenskappe voordeel trek uit die myn se teenwoordigheid, deur middel van deurlopende gemeenskapsheffings- en ontwikkelingsprogramme.

Leave A Reply

Your email address will not be published.