Departement van onderwys steeds besig met plasings

Altesaam 30 333 ouers het die aanbod vir plasing aanvaar, terwyl 3 687 aanbiedinge nog hangend is.

0

Die Noord-Kaapse departement van onderwys is tans besig om die plasings van alle leerders te finaliseer, voor die aanvang van die akademiese jaar 2021.

“Tot op hede het die Departement 34 020 plasingsaanbiedinge aan ouers uitgereik.”

‘n Woordvoerder vir die departement, Geoffrey Van der Merwe, het gesê altesaam 30 333 ouers het die aanbod vir plasing aanvaar, terwyl 3 687 aanbiedinge nog hangend is.

Van der Merwe het aangedui dat as ‘n ouer of voog nie binne sewe dae die aanbod aanvaar nie, sal die departement die verantwoordelikheid neem om die kind te plaas.

“Dit is belangrik om daarop te let dat baie ouers by meer as een skool aansoek gedoen het, en dat die huidige hangende aanbiedinge beskikbare skoolruimtes beslaan.”

Die departement het gesê dat hulle bewus is dat ‘n aantal ouers, beroepe by die kantoor van die LUR ingedien het, terwyl hulle nog hangende aanbiedinge vir plasing het.

Die departement sal dus die kantoor van die LUR aanraai om nie hierdie appèlle te oorweeg nie, aangesien hierdie leerders spasie by ‘n skool waar hulle aansoek gedoen het, aangebied is.

“Nóg ‘n uitdaging wat die plasing van leerders vertraag, is die onvolledige aansoeke op die stelsel.”

“Ouers het aansoek gedoen, maar nie al die nodige dokumentasie opgelaai nie, onder andere; identiteitsdokumentasie (ID), bewys van adres, kliniekkaart, verslagkaart.”

Baie van die aansoeke wat ingedien was, is onvolledig en daarom kan die leerders nie geplaas word nie.

“Ons distrikskantore en skole probeer hul bes om hierdie ouers in die hande te kry.”

Die aanlyn-toelatingstelsel was oop vir laat aansoeke vanaf 11 tot 18 Januarie 2021.

Van der Merwe sê die departement het 11 155 laat aansoeke vir hierdie akademiese jaar ontvang.

“Hierdie aansoeke sal mettertyd afgehandel word en op ‘n first-come-first-serve basis behandel word.”

Tot op hede het die kantoor van die LUR 5 250 appèlle ontvang van ouers wat ‘n onsuksesvolle uitkoms per sms ontvang het.

“Die appèlle sal slegs oorweeg word op grond van die toelatingsvereistes soos deur die Departement van Basiese Onderwys uiteengesit, en ouers sal in kennis gestel word oor hul aansoeke voordat skole heropen.”

Van der Marwe het bygevoeg dat die departement in die finale fase is om alle uitstaande plasings af te handel, en hulle bedank dus alle ouers wat geduldig was en die nodige samewerking in hierdie verband gegee het.

“Ons het waardevolle lesse geleer met die nuwe aanlyn-toelatingstelsel en sal die stelsel waar nodig verder verbeter.”

Die Departement sal toesien dat alle leerlinge in ‘n openbare skool geplaas word, voordat die skole weer op 15 Februarie 2021 heropen.

Leave A Reply

Your email address will not be published.