Meer as 600 000 NK-kiesers word verwag

"Die provinsiale OVK-woordvoerder, Elken Topken, sê daar is 728 stemlokale regoor die provinsie, wat strek vanaf Port Nolloth, af na Sutherland, Colesburg en tot by Heuningvlei."

0

Ongeveer 623 000 geregistreerde kiesers in die Noord-Kaap sal na verwagting vandag tydens die plaaslike regeringsverkiesings hul stemme uitbring by een van die honderde stemlokale wat deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) bestuur word.

Die provinsiale OVK-woordvoerder, Elken Topken, sê daar is 728 stemlokale regoor die provinsie, wat strek vanaf Port Nolloth, af na Sutherland, Colesburg en tot by Heuningvlei.

Intussen het die OVK se nasionale hoofkwartier voorheen sy gereedheidstoestand verklaar.

Die verkiesingskommissie het gesê meer as 1,7 miljoen kiesers het nasionaal geregistreer tydens die spesiale tweedaagse registrasienaweek wat van 18 tot 19 September 2021 plaasgevind het.

“Hierdie registrasie-opbrengs sluit nuwe registrasies in, sowel as kiesers wat hul registrasiebesonderhede regstel. Innovasies wat deur die kiesersbestuurtoestel ingestel is, het die spoed waarteen kieser registrasie-aansoeke verwerk word, verhoog,” het die OVK bygevoeg.

OFM-nuus het vroeër berig die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sal na verwagting Saterdag duisende soldate in die strate van stede, dorpe en klein dorpies regoor die land ontplooi.

’n Gedeelte van die 10 000 soldate sal na onder meer stede soos Bloemfontein, Kimberley en Mahikeng ontplooi word.

Hierdie drie stede in die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes het in die verlede gewelddadige betogings beleef met woedende inwoners wat hul woede ten toon gestel het teenoor munisipaliteite wat in dié dorpe gesetel is oor ‘n gebrek aan basiese dienslewering.

Die SANW-woordvoerder, Mafi Mgobozi, het in ‘n verklaring gesê die ontplooiing van soldate is om die wetstoepassingsagentskappe te ondersteun ten einde die komende munisipale verkiesing wat vandag sal begin, te beveilig.

Leave A Reply

Your email address will not be published.