Eerste Tsineng – verdagte vas – Nog arrestasies word verwag

""Ek prys die spoedige reaksie van die span. Baie lewens is gered deur die terugvind van hierdie vuurwapens," het die nasionale hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke gesê."

0

‘n Multidissiplinêre span wat bestaan uit die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke, misdaadintelligensie, taktiese reaksie-span, snelwegpatrollie, honde-eenheid en die plaaslike kriminele rekordsentrum het goeie resultate opgelewer wat gelei het tot die vinnige arrestasie van ‘n 41-jarige verdagte vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie op Dinsdag 3 Augustus 2021.

‘n Woordvoerder van die Valke in die Noord-Kaap, Nomthandazo Mnisi, het bevestig dat die ondersoekspan het inligting opgevolg wat die publiek verskaf het oor die verdagte se beweerde betrokkenheid by die roof van die polisiestasie in Tsineng, wat op Saterdag 31 Julie 2021 in Kuruman plaasgevind het.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het aangedui dat: “Terwyl die vinnige arrestasie deur die SAPD prysenswaardig is, moet die gemeenskap ook geprys word vir die bekendmaking van inligting wat tot die arrestasies gelei het. Laat dit ‘n les wees vir misdadigers wat dink hulle kan wegkruip, dat gemeenskappe moeg is vir misdaad en al hoe meer saam met die polisie werk om misdaad uit die weg te ruim. ”

Volgens verskeie mediabronne het berig dat drie gewapende verdagtes na bewering die Tsineng-polisiekantoor binnegegaan het asof hulle ‘n klag wou indien.

Terwyl die polisiebeampte besig was om hulle te hulp te snel het een verdagte oor die toonbank gespring en die lid aan diens met ‘n vuurwapen gedreig.

“Die polisiebeampte is toe beveel om ‘n kluis oop te maak en verdagtes kon daarin slaag om met agt pistole, drie gewere en twee kort gewere met lewende ammunisie te vlug. Geen skote is afgevuur nie en geen beserings opgedoen nie”, het Mnisi gesê.

“Ek prys die spoedige reaksie van die span. Baie lewens is gered deur die terugvind van hierdie vuurwapens,” het die nasionale hoof van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke gesê.

Die ondersoekspan het alle vuurwapens en ammunisie teruggekry en die verdagte verskyn op Donderdag 5 Augustus 2021 in die Kuruman -landdroshof.

Verdere arrestasies word ook verwag.

Leave A Reply

Your email address will not be published.