Elke donker wolk hèt ‘n silwer randjie

0

Oktober is ‘n maand gewy aan die bewusmaking van “engele”, (doodgebore babas).

Wanneer ‘n vrou uitvind dat sy swanger is, is dit vir haar een van die vreugdevolste oomblikke in haar lewe.

*Sara, is een Namakwalandse dame wat die trauma deurgemaak het, om ‘n baba te verloor.

Toe sy hoor dat sy swanger is, was sy opgewonde daaroor, maar haar ma was meer opgewonde aangesien dit haar ma se eerste kleinkind sou wees.

Sara vertel dat sy al lank hiervoor gebid het.

Sy sal nooit Desember 2014 vergeet, toe sy en haar ma sonar toe was, en hulle vir die eerste keer sy bewegings sien en sy hartklop kon hoor het.

Haar moeder het daardie dag trane van blydskap gestort.

Blydskap het geheers omdat dit haar man se eerste seuntjie was, en hy net dogters het.

“Hy het so baie planne gemaak vir hom en sy seuntjie.”

Sy het lewe binne haar gevoel en haar kind het elke dag beweeg.

Haar suster aan die anderkant het begin om klere te koop en haar gesê: “Sara dus dan so mooi, ek kan dit nie los nie.”

Haar hele gesin en familie was saam met hulle opgewonde, want hulle sou in die nuwe jaar ‘n baba ryker word.

Sy onthou tot vandag, die verwagte geboortedatum van haar seuntjie.

02 Januarie 2015 het aangebreek…

Nadat sy opgestaan het, het sy agter gekom dat iets fout was.

Hulle was dadelik hospitaal toe en die dokter het haar verwittig dat sy haar baba gaan verloor.

Haar vrae aan hom was; “Dokter hoekom?, Wat het ek verkeerd gedoen?”

Hy het haar en haar man verseker dat hulle niks verkeerd gedoen het nie.

Sy het kort daarna gevra, “Wat nou?”

Die dokter het aan die paartjie verduidelik dat sy steeds geboorte sal skenk, maar aan ‘n baba wat nie lewe nie.

Sara het die dokter gevra of sy nie maar die volgende dag kan terugkom nie, want sy wou net daar wegkom.

Sy wou net weghardloop en nooit weer haar verskyning maak nie, en sy onthou dat sy haar dokter gevra het om haar baba te red.

Sy het soveel vertroue in hom gehad.

Sy het ‘n wonderwerk van hom verwag, want haar baba het reeds ‘n naam gehad.

Daar was so baie vrae.

Na die prosedure wou sy net alles vergeet.

“Ek wou alles eenkant toe skuif en vergeet dat ek ooit ‘n baba verwag het.”

Sy wou nie haar baba sien nie, alles moes net normaal raak, min het sy geweet dat niks ooit weer normaal gaan wees nie.

Die rou-proses was verskriklik vir almal na-aan haar, die vrae wat sy in die stilte gevra het, het sy nie verstaan nie en  alles blyk nog baie onduidelik te wees.

Haar seuntjie, wat hul enigste sou wees, sou vandag ‘n 5-jarige kleuter gewees het.

Mense het haar gesê dat dit beter gaan raak en sy stem saam, dit raak wèl beter.

Wanneer Desember- en Januarie-maand nader kom, dan is alles weer oop en rou.

“Dis in diè maande waar ek weer sit met die emosies van 5-jaar gelede.”

Sy het geleer om saam met dit te leef, maar sy vertel dat sy verewig sal wonder oor haar baba.

“Dit is ‘n seer wat net niemand sal verstaan.”

Sommige mense het ook gevra hoekom sy so “aangaan oor ‘n kind wat sy nie gesien of geken het nie”.

Sy sê dat sy haar kind op ‘n sonar gesien het en hom geken het, omdat hy binne haar gelewe het vir 22-weke.

Hierdie tragiese voorval het haar ma so seer gemaak, dat sy in die hospitaal opgeneem moes word.

Haar suster het soos ‘n besetene daardie dag uit Kakamas kom ry en haar ondersteun.

Haar man praat nie regtig daaroor nie.

“Hy sê vir die wat vra, dat hul seuntjie in die hemel is.”

Hulle was selfs bang om wèèr swanger te raak, maar twee jaar nadat hulle die trauma deurgemaak het, was sy geseën met ‘n dogtertjie.

Hierdie dogtertjie het hulle sò baie lief en dank elke dag vir God, dat Hy hulle met so ‘n prag-kind geseën het.

(*Sara – skuilnaam)

Leave A Reply

Your email address will not be published.