Finansiële druk op toelae-afhanklikes as gevolg van gebrek aan SASSA-betaalpunte

'Dit is meer as wat 60% van die land se werkersklas verdien.'

0

Die Demokratiese Alliansie het hul kommer uitgespreek oor die Noord-Kaap se voortdurende gebrek aan SASSA-dienste.

Dit het die politieke party aangespoor om te veg vir alternatiewe betaalpunte vir vergete plattelandse dorpe.

Gizella Opperman, portefeuljekomitee lid Department Sosiale Ontwikkeling, het gesê; dat dit onaanvaarbaar is dat plekke soos Hondeklipbaai geen SASSA-dienste het nie, en dat ontvangers van toelaes vervoer moet huur na Springbok teen R1200, of na Garies en Kleinzee teen R700 om hul pensioenuitbetalings van R1890 te ontvang.

Inwoners van Soebatsfontein, Spoegrivier, Lepelsfontein en Klipfontein ondervind die soortgelyke situasie.

Dit is om van te huil, wat oorbly van die uitbetalings van die toelaes, nadat uitgawes aangegaan is om dit te bekom.

Huishoudings word in ‘n ewige wurggreep van tekort, nood en behoefte geplaas.

Opperman noem dat die situasie veel erger is gegewe die styging in lewenskostes sowel as onder inflasie-toelae verhogings.

Die styging van 68% van basiese voedselprodukte soos rys, suiker, meel en mielieblom in die basiese mandjie kos deesdae al meer as R4 051,20.

Dit is meer as wat 60% van die land se werkersklas verdien.

‘Die minister Tito Mboweni het aangekondig dat SASSA-toelaes met slegs R1 per dag vir bejaardes verhoog sal word en met R10 per maand, of 33 sent per dag, vir die kindertoelae.

Tien Rand is nie genoeg vir ‘n brood nie, terwyl 33 sent nie eens ‘n lekkertjie kan koop nie.

Wat dan van die R460-kindertoelaag, wat nie eens ‘n blikkie melk teen R370 plus ‘n pak doeke teen R170 kan verseker nie, wat nog te sê van medisyne, klere, skoolgeld en taxigeld?’, het Opperman gesê.

Mense word dieper in armoede gedompel as gevolg van die toenemende finansiële druk.

Opperman het genoem dat die saak na die parlement verwys sal word en die Nasionale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling vra om dadelik die gebrek aan SASSA-betaalpunte in die provinsie aan te spreek.

Haar voorstel is dat gratis vervoer voorsien kan word en mobiele eenhede uitgestuur kan word.

Reëlings met bestaande instellings kan aangegaan word wat die betaling namens SASSA kan vergemaklik.

Betaling aan begunstigdes via bankrekeninge kan ook uitgebrei word, maar in hierdie geval moet addisionele bankkoste van die hand gewys word.

Sy sluit af deur by te voeg dat ongeag watter maatreëls uiteindelik getref word verdien alle begunstigdes van toelaes, ongeag waar hulle woon, om die volle waarde van hul toelae te kan gebruik om hulself en hul gesinne te onderhou.

 

 

Leave A Reply

Your email address will not be published.