Gemeenskappe gemaan om alkoholmisbruik te bestry

0

Die Noord-Kaapse provinsiale regering het gemeenskappe in die provinsie gemaan om standpunt in te neem teen alkoholmisbruik.

In ‘n verklaring, uitgereik deur die kantoor van die Premier, word bevestig dat die COVID-19 veiligheidsmaatreëls gemeenskappe veilig gehou het.

“Ons sien ‘n positiewe verandering in COVID-19 gevalle, wat bestendig bly terwyl die verhogings toeneem. Dit beteken dat die ekonomie oopgemaak kan word om meer besighede te laat funksioneer.

Die opheffing van die verbod op verkope van alkohol- en tabakprodukte, wat deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is, is ‘n voorbeeld van ‘n heropende bedryf.”

Die verklaring dui egter daarop dat berigte oor alkoholmisbruik, roekeloosheid, motorongelukke en sterftes op die paaie toegeneem het, ná die verbod gelig is.

“Die provinsiale regering doen ‘n oproep op alle lede van die gemeenskap om die verantwoordelike gebruik van alkohol te prioritiseer, omdat baie onskuldige lewens vernietig kan word deur die roekelose optrede van sekere individue.

“Alkoholmisbruik is dikwels die voorloper tot geslagsgebaseerde geweld en kontakmisdade soos moord, seksuele misdrywe en aanranding, onder andere.

Die stryd teen hierdie siektes in die samelewing begin met ons nugtere besluit om verantwoordelike burgers te wees wat saam met die regering en wetstoepassingsagentskappe werk.”

Gemeenskappe word daaraan herinner dat die land volgens die rampbestuurwet steeds gegrendel is, hoewel die inperking na vlak 2 geskuif was.

“Massa-byeenkomste is nog steeds verbode en eienaars van drankwinkels moet met wetstoepassing saamwerk om nakoming te verseker. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het die mandaat om alle skuldiges wat die regulasies oortree, te vervolg en die regulasies sterk op kwaaddoeners af te dwing. ”

Volgens die verkeersdepartement van die Sol Plaatje-munisipaliteit, was daar die afgelope naweek geen drastiese verandering in die gedrag van motoriste, ná die opheffing van die alkoholverbod vroeër hierdie maand nie.

Munisipale woordvoerder, Thoko Riet, het daarop gewys dat dit waarskynlik toegeskryf kan word aan die feit dat die verbod in die middel van die maand opgehef is.

“Daar is geen voorvalle van dronkbestuur aangeteken nie en die ongeluksyfer gedurende die naweek in die stad was ook normaal. Hierdie statistieke kan egter verander as dit ‘n naweek aan die einde van die maand is. ”

Leave A Reply

Your email address will not be published.