Gesondheidsbeamptes in NK se bedrogsaak oorgeplaas na handelsmisdaadhof

"Mosimanegape Gaborone, die voormalige HOD, en Dion Theys, finansiële hoof, is tans op borgtog van R20 000 vry gelaat."

0

Die finansiële hoof van die Departement van Gesondheid in die Noord-Kaap en voormalige waarnemende departementshoof (HOD) het Maandag (27 September) weer in die Kimberley -distrikshof verskyn.

Mosimanegape Gaborone, die voormalige HOD, en Dion Theys, finansiële hoof, is tans op borgtog van R20 000 vry gelaat.

Gaborone en Theys staan tereg op aanklagte van bedrog en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).

Hulle is in hegtenis geneem ná ‘n intensiewe ondersoek.

Die ondersoek het aan die lig gebring dat relevante prosesse nie gevolg is by die goedkeuring van betalings aan twee diensverskaffers nie.

“Die beskuldigde het versuim om ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes ter waarde van R43,866,692 te voorkom”, het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gesê.

Tydens hul eerste verskyning is die duo borgtog toegestaan met voorwaardes wat insluit dat hulle hul paspoorte aan die owerhede moet oorhandig en ‘n hofbevel om nie met getuies in te meng nie.

Dit is Theys se tweede arrestasie deur die Valke in die bestek van ses maande.

In Maart is hy inhegtenis geneem in verband met huurooreenkomste vir die verblyf van verpleegstudente wat R96 miljoen beloop.

Die saak is na die plaaslike gespesialiseerde handelsmisdaadhof oorgeplaas.

Verrigtinge sal op 14 Oktober voortgaan.

Leave A Reply

Your email address will not be published.