Groot korrupsiesaak terug in Kimberley-hof

0

Een van die grootste bedrog- en korrupsie-sake in die Noord-Kaap word vandag in die landdroshof in Kimberley voortgesit.

Tien verdagtes, wat na bewering betrokke was by ‘n tenderskandaal van R74 miljoen, in die departement van gesondheid, sal vandag op klagtes van bedrog, korrupsie en geldwassery verskyn.

“Die verdagtes het na bewering tussen 2013 en 2014, die proses vir die toekenning van ‘n tender, vir die opknapping van geboue in verskillende dorpe in die provinsie gemanipuleer.”

‘n Provinsiale woordvoerder van die Valke, Nomthandazo Mnisi het gesê die verdagtes, wie se ouderdomme tussen 36- en 72- jaar is, is op borgtog van tussen R5 000 en R10 000 vrygelaat, na hul inhegtenisneming in Julie.

Onder die gearresteerdes is ‘n voormalige hoof uitvoerende beampte van die departement en sy dogter.

“Ondersoeke het bewys dat daar nie behoorlike prosedures gevolg is by die toekenning van verskillende tenders aan diensverskaffers nie.

Volgens inligting het die provinsiale departement na bewering ‘n R74 miljoen-vooroordeel opgedoen in ‘n kontrak ter waarde van R494 miljoen.”

Agt verdagtes wat insluit; Melisa Joys Barnes (36), Godfrey Boitumelo Moncho (51), Graham Whitten (64), Eugene Magalty (46), Derrick Mcdillon (61), Carlo Whitten (40), Beryl Mcdillon (60) en Mervin Ruiters (72), is op 6 Julie deur die eenheid vir ernstige korrupsie in Kimberley, in hegtenis geneem.

Die negende en tiende verdagtes is onder meer die voormalige hoof uitvoerende beampte van die departement – Gordon Moncho (51) en sy dogter, Naledi Moncho (28), wat twee dae ná die inhegtenisneming van die ander agt verdagtes in hegtenis geneem is.

Leave A Reply

Your email address will not be published.