Heuningvlei : Verkragter kry lewenslank

"Die beskuldigde is dieselfde aand nog in hegtenis geneem en in aanhouding gebly totdat hy op 10 Augustus 2021 in die streekhof in Mothibistad, Kuruman, tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is."

0

Die Waarnemende Provinsiale Kommissaris in die Noord-Kaap, Generaal-Majoor Joey Kers, verwelkom die lewenslange vonnis wat op 10 Augustus 2021 aan Tshepo Editious Paul opgelê is.

‘n Polisiewoorder in die Noord-Kaap, Kolonel Mashay Gamieldien, het bevestig dat op 1 September 2015 om 20:00 wou die 20-jarige vroulike slagoffer haarself warm maak by ‘n vuur in die dorpie Heuningvlei, waar sy deur die beskuldigde genader is.

“Die beskuldigde het die slagoffer versoek om hom na ‘n onbekende huis te vergesel, waar hy haar met geweld uitgetrek en verskeie kere verkrag het. Hulle is onderbreek deur die tante van die slagoffer wat die voorval by die polisie aangemeld het”, het Gamieldien gesê.

Die beskuldigde is dieselfde aand nog in hegtenis geneem en in aanhouding gebly totdat hy op 10 Augustus 2021 in die streekhof in Mothibistad, Kuruman, tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is.

Hy is ook ongeskik verklaar om ‘n vuurwapen te besit en sy naam sal in die Nasionale Register vir Oortreders van Seksuele Misdrywe ingevoeg word.

Majoor Kers het die ondersoekbeampte, Sersant Kenalemang Babeile, geloof vir die noukeurige ondersoek in die saak wat die lewenslange gevangenisstraf van die oortreder tot gevolg gehad het.

Hy het ook polisiebeamptes aangemoedig om die pas te verhoog om geslagsgebaseerde geweld en vrouemoorde te beveg.

Die swaar vonnis stuur ‘n sterk boodskap uit veral in Vrouemaand dat die regte van vroue deur die regstelsel beskerm word.

Leave A Reply

Your email address will not be published.