Jonathan Rubain loer in by Koingnaas-aanhanger

'Cloete veg al vir baie jare teen borskanker en dit was haar droom om eendag woorde te wissel met Rubain.'

0

Saterdag, 06 Februarie, wat vir onderstel was om ‘n doodgewone dag vir Linzel Selindia Cloete te wees, het uitgedraai as een van die beste dae in haar lewe.

Linzel Cloete, woonagtig in Koingnaas het verlede Saterdag haar held, Jonathan “JR” Rubain ontmoet.

Cloete veg al vir baie jare teen borskanker en dit was haar droom om eendag woorde te wissel met Rubain.

Sy het op haar Facebook-blad laat hoor: “Vir jare wil ek nou al vir Jonathan Rubain ontmoet en hom op ‘n manier support nou dat hy op Springbok is, EN EK KAN NIE!!! Stupid, stupid, stupid kanker.”

Rubain was verlede Saterdag op Springbok om sy splinternuwe CD in die Springbok Plaza te kom bemark.

Cloete vertel aan NFM Nuus dat sy regtig geen bybedoelings met haar plasing gehad het nie.

Cloete verkeer nog in baie pyn, en kon nie haar held op Springbok gaan ontmoet nie.

Haar plasing het Rubain se oog gevang, en hy het nie geskroom om daadwerklik ‘n soektog na haar adres van stapel te stuur nie.

Rubain se voertuig-GPS het hom en sy seun, Micah eers na Koiingnaas geneem, voordat hulle op Cloete se drumpel gaan trap het.

Rubain wou weet van haar reis met borskanker en waardeur sy al was.

NFM Nuus het in Oktober 2020, verslag gedoen oor Cloete en haar reis met kanker.

Cloete vertel dat haar man tans op ‘n kontrakbasis werk, en sy het haar werk verloor.

Cloete sê hulle kom klaar met dit wat hulle het, en somtyds is dit moeilik omdat sy elke maand Kaap toe moet reis vir haar behandeling.

Cloete het vertel van die verhouding wat sy het met God, en dat Hy al so baie keer verseker het dat sy ‘okay’ is.

“Sonder die Here, sou ek dit nie gemaak het nie.”

Sy het saam met Rubain haar gusnteling aanbiddingskoortjie gesing en hy het ‘n kragtige gebed in die Cloete-woning gedoen.

Vir haar was dit merkwaardig om saam met hom te kon harmoniseer op die alombekende koortjie; ‘Wees stil en weet, ek is God’.

Cloete sê dat hulle onlangs in Kaapstad was om haar gesondheidstoestand te evalueer.

Leave A Reply

Your email address will not be published.