Jong talentvolle danser droom GROOT

 Jong talentvolle danser droom GROOT

Kokerboom Media, in samewerking met Radio Nfm 98.1 het seisoen een van “Jou Storie” gebring en dit was so ‘n sukses dat hulle besluit het om ‘n tweede opwindende seisoen aan te pak vir die getroue luisteraars van Radio NFM.

Kokerboom Media is ‘n plaaslike produksiemaatskappy wat passievol is om plaaslike kunstenaars te bemagtig en is vasbeslote om die kwaliteit van plaaslike vermaak te verander.

In samewerking met Radio Nfm 98.1 bring hulle vir jou boeiende stories, vurige talent en meer motivering.

Eerste op die lys vir hierdie seisoen was die talentvolle Georgia Julies, met ‘n baie borrelende persoonlikheid wat mense met haar teenwoordigheid bekoor het.

Sy is ’n aspirant-danser wat passievol is oor haar kuns.

Julies vertel van haar reis en praat met soveel entoesiasme oor hoekom sy so lief is vir dans.

Gebore en getoë in Vredendal het sy haar hoërskoolloopbaan in Vredendal voltooi.

“Ons het Namakwaland toe verhuis om my droom na te streef om ‘n professionele danser te word. Tans ontvang ek opleiding van die Garage Dance Ensemble,” vertel hierdie talentvolle danseres.

In graad een het sy inleiding tot dans gekry, waarvan sy lyndans begin doen het.

Later het sy Hip-Hop aangedurf en gevind dat sy verskeie dansstyle geniet studeer tans kontemporêre dans.

Volgens Julius is sy lief vir kontemporêre dans, omdat dit jou toelaat om diep in jou gevoelens in te gaan en te ondersoek.

Sy voel diè genre is wonderlik om stories sonder woorde te vertel en om met jou liggaam met gevoel te beweeg.

“Ek is passievol oor dans as kunsvorm,” vertel sy aan die span van Kokerboom Media.

“Vir my is dans my manier om uiting te gee en ontslae te raak of eerder om my gevoelens uit te druk. Ek glo dat ‘n danser se beste eienskap uithouvermoë en konsekwentheid is,” het sy bygevoeg.

Sy wil graag eendag ‘n choreograaf word, maar vir nou is sy meer gefokus daarop om ‘n danser te wees, te leer en die beste te word wat sy kan wees.

Sy sê sy sal daarvan hou om in flieks te dans en ‘n inspirasie vir jongmense te word.

Georgia Julies is nog ‘n voorbeeld van jongmense wat hard werk om hul groot drome te verwesenlik.

Werk hard om die sirkel te breek en grense te oorskry.

“Ons wens Georgia alle sterkte toe en hoop die gemeenskap sal meer ondersteunend wees nadat hulle van hierdie jong dame gehoor het”, het Kokerboom Media Produksie afgesluit.

Vir meer plaaslike kunstenaarstories: Skakel elke Vrydag @ 15h10 in op “Jou Storie” op Radio Nfm 98.1 in.

Azelle Engelbrecht

Related post