Man 26 jaar tronstraf opgelê vir verkragting

"Hy het haar met 'n mes gedreig en geld geëis en het haar daarna na 'n verlate huis gedwing waar hy haar verkrag het."

0

Die SAPD verwelkom die vonnisoplegging vir die verkragting en poging tot verkragtingsaak  wat op 14 September 2021 in die Postmasburg-streekhof aan Dino Jacobs (19) opgelê is.

‘n Polisiewoordvoerder in die Noord-Kaap, Kaptein Sergio Kock, het bevestig dat op Woensdag 06 Maart 2019 omstreeks 17:55 was ‘n 15-jarige meisie onderweg na Shoprite vanaf Postdene toe sy deur die beskuldigde aangeval is.

Hy het haar met ‘n mes gedreig en geld geëis en het haar daarna na ‘n verlate huis gedwing waar hy haar verkrag het.

“Drie dae later op Saterdag, 09 Maart 2019 omstreeks 16:00, het Dino Jacobs ‘n ander 26-jarige vrou in ‘n veld naby die Hoërskool Postmasburg gekonfronteer. Hy het haar ook met ‘n mes gedreig en geëis dat sy moet uittrek,” het Kaptein Kock gesê.

Die slagoffer het Jacobs gesmeek om haar nie te verkrag nie, maar hy het haar selfoon gegryp en van die toneel gevlug.

Die slagoffer het die polisie gekontak wat die beskuldigde op 11 Maart 2019 inhegtenis geneem het.

Jacobs het sy borgtogaansoek laat vaar en is gevonnis tot 20 jaar direkte gevangenisstraf vir verkragting en 6 jaar vir poging tot verkragting op 14 September 2021.

Sy naam sal ook in die Nasionale Register vir seksuele oortreders aangeteken word.

“Die provinsiale hoof vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (FCS) in die Noord-Kaap, Brigadier Nicky Mills prys Sersant Lionel Rooiland en Konstabel Tshepiso Bele van die Postmasburg FCS vir die uitstaande ondersoek van die twee sake. Die SAPD gee prioriteit aan misdade wat teen vroue en kinders gepleeg word en sal verseker dat daar geen straffeloosheid aan die oortreders van hierdie gruwelike dade toegestaan word nie, het Mills gesê. “

Leave A Reply

Your email address will not be published.