Matriekeksamen nasienproses in Noord-Kaap afgehandel

0

Die Noord-Kaapse departement van onderwys het sy nasienproses by 4 nasiensentrums in Kimberley afgesluit.

Die nasien van matriekeksamen-antwoordstelle is amptelik op Saterdag 16 Januarie 2021 voltooi.

Die Departement het alle maatreëls getref om te verseker dat alle nasiensentrums die COVID-19 regulasies en riglyne nakom.

‘n Woordvoerder vir die departement, Geoffrey Van der Merwe het bevestig dat ses nasieners positief getoets het vir Covid-19, en is hulle onmiddellik van hul pligte vrygestel.

“Alle ‘close contacts’ is geïsoleer en getoets vir Covid-19.”

Dis departement het verwag dat dit ‘n direkte invloed sou hê op die voltooiing van die nasienproses, maar as gevolg van die toewyding van nasieners, het hulle daarin geslaag om betyds klaar te merk, soos aanvanklik beplan.

Altesaam 231 661 antwoordskrifte is gemerk deur 759 nasieners, 166 senior nasieners, 22 adjunkhoofnasieners, 47 hoofnasieners en 47 interne moderators.

“Ons bedank alle nasieners sowel as hul gesinne, vir die onbaatsugtige opoffering wat hulle gemaak het vir die jeug en toekoms van ons provinsie.”

Van der Merwe het ook sy dank uitgespreek aan die departement van gesondheid, vir die professionele dienste wat hulle aan al die nasiensentrums gelewer het, om die verspreiding van COVID-19 te beperk.

“Die deurlopende pogings deur gesondheidswerkers moet toegejuig word, en ons sal vir altyd dankbaar bly vir die hulp wat u verleen het.”

Die Departement van Onderwys sal die uitslae van die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen 2020, op 22 Februarie 2021 bekendmaak.

Leave A Reply

Your email address will not be published.