Namakwa se gemeenskapsradiostasie amper mondig

"Baie omroepers het gekom en gegaan wat op ‘n daaglikse basis bygedra het om die luisteraar op te voed, in te lig, te inspireer en te motiveer."

0

Die idee van ‘n gemeenskapsradiostasie het 18 jaar gelede in die harte van gemeenskapslede opgekom.

Agter die idee was harde werk ingesit om die idee ‘n werklikheid te maak.

Vrydag 19November gaan Radio Nfm 98.1,  18jaar van uitsaaiwese en bemagtiging van die breër Namakwaland, deur insiggewende en opbouende programme.

Met volgehoue ondersteuning van die luisteraars het die stasie baie suksesse behaal, onder andere die toekenning van ‘n uitsaailisensie wat presies ‘n jaar gelede op 19November deur Icasa toegestaan was.

Baie omroepers het gekom en gegaan wat op ‘n daaglikse basis bygedra het om die luisteraar op te voed, in te lig, te inspireer en te motiveer.

Met woorde en klanke skep Radio Nfm ‘n atmosfeer wat die gemeenskap motiveer om te redeneer, presteer en floreer, het ‘n oud omroeper en tegniese beampte geskryf.

Die afgelope jaar  was daar heelwat uitdagings wat die stasie in die gesig gestaar het onder andere die Kovid-19 pandemie wat baie nie-regerende organisasies ekonomies lam gelê het.

Vinnig moes Nfm met ‘n fondsinsamelingsprojek na vore kom om te help om die operasionele kostes van die stasie te kon dek.

Dit het daartoe gelei dat die Blikskut projek ‘n reuse sukses was en vele uitgawes van die radio kon gedek word.

Die sukses van hierdie projek is ‘n bewys van die lojaliteit van luisteraars oor die lengte en breedte van die uitsaaigebied.

Met die onlangse plaaslike munisipale verkiesings het Radio Nfm landswyd opslae gemaak met die direkte uitsending van die politieke debat wat by die Okiep Rec Club plaas gevind het.

Verskeie verteenwoordigers van die politieke partye, saam met hul ondersteuners het deelgeneem aan die debat, waarvan die partye hul manifestos en strategie kon deel.

Die dag van die politieke verkiesing het Nfm seker gemaak dat  luisteraars op hoogte gehou was van wat by verskeie verkiesingslokale gebeur het.

Radio Nfm is daartoe verbind om seker te maak dat die luisteraars van jonk tot oud die klankgolwe op 98.1FM radio stasie kan geniet met al die programme wat 24/7 op die stasie uitgesaai word.

Nfm saai in verskillende kategorieë uit naamlik, nuus, aktuele-, vroue-, kinder-, inbel-, plaaslike drama-, opvoedkundige-,  geestelike-, gemeenskaps programme en dan maak die stasie voorsiening om direkte uitsendings waar te neem by verskillende geleenthede.

Die bestuur van Radio NFM bedank die luisteraars, adverteerders, verskeie borge en mediavennote vir hul volgehoue ondersteuning tot die radiostasie se volhoubaarheid en toekomstige suksesse.

Leave A Reply

Your email address will not be published.