Namakwaland spog met ‘n ‘sopnat’ Nuwejaar

0

Namakwalanders het ‘n nuwejaarsgeskenk deur middel van goeie reën, ontvang en met dankbaarheid verwelkom.

Die goeie reën het hoop en “koelte” gebring, in die skroeiend warm en droogtegeteisterde Noord-Kaap, met gebiede wat ‘n toename in reënval gehad het as in Desember 2019.

Dit is volgens Agri Noord-Kaap se Visepresident, Willem Symington.

Boere in gebiede soos Namakwaland en die Boesmanland in die Noord-Kaap, het melding gemaak dat reën in hierdie gebiede van kardinale belang is, aangesien die boere nog onder kolossale droogtetoestande gebuk gaan.

‘n Weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, Siyabonga Mpati, het gesê dat die onlangse reënval in Sentraal-Suid-Afrika, hoofsaaklik veroorsaak word deur ‘n oorvloed van tropiese vog.

Dit is egter moeilik vir die weerdiens om te bepaal watter provinsie in Sentraal SA die meeste reën gekry het, omdat die persentasies weekliks veranderinge toon.

“Die provinsie het sedert die begin van die nuwe jaar wydverspreide reën in groot dele ervaar.”

‘n Plaas in die Boesmanlandstreek, Steierkraal het ná baie jare weer ongeveer 50mm reën gekry.

In Bulletrap het dit blykbaar só gereën, dat die waters ‘n rivier gevorm het.

“Inwoners in die Nama Khoi regsgebied het omtrent video’s en foto’s op sosiale media gedeel van die langverwagte reën.”

Die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, sê egter dat daar gebiede is wat nog nie reën gekry het nie.

‘n Boer van Eksteenfontein in die Noord-Kaap, Andrew Farmer, het vertel dat die Richtersveldstreek al die afgelope sewe jaar met droogtetoestande worstel.

Die veeboer sê van die boere het alles verkoop en hulle hekke gesluit, en hy moes ook van sy vee ontslae raak, weens die droogte.

Plekke soos Concordia en Steinkopf, sowel as omliggende gebiede, het heelwat reën gekry.

Die weerdiens voorspel dat die noordelike dele van die Noord-Kaap vanaf vandag goeie reën sal kry.

Leave A Reply

Your email address will not be published.